OOS-KAAP. – Raydson Lehlogonolo Ntsala (35) is gister op aanklagte van bedrog in die Gqeberha-landdroshof skuldig bevind.
Ntsala het op 7 November 2017 by die slagoffer se rekenaar ingebreek en ‘n e-pos namens haar makelaar gestuur wat sê dat sy ‘n belegging van R350 000 moet maak.
Toe die slagoffer die e-pos ontvang, het sy die bedrag van R350 000 goedgekeur. Toe die slagoffer egter later die makelaar bel om seker te maak dat alles in orde is, het die makelaar van niks geweet nie.
Hulle kon toe vasstel dat haar e-pos “gehack” was.
Die saak is aan die Valke in Gqeberha gerapporteer en Ntsala is op 28 Januarie vanjaar in hegtenis geneem. Hy is op R2 000 borgtog vrygelaat tot hy gevonnis word.



