October 18, 2021

Taal-sussies se liefde vir die Afrikaanse taal

Gebore in Springbok, het die sussies in Kimberley grootgeword en hulle skoolloopbaan by Hoërskool Noord-Kaap voltooi.

Taal-sussies se liefde vir die Afrikaanse taal

Taal-sussies se liefde vir die Afrikaanse taal

Lynthia (27) en Sisca Julius (25) is nie net twee gewone sussies nie. Hulle albei deel ‘n groot liefde vir die Afrikaanse taal en skryf. Albei het ‘n reeks prestasies agter hulle name en hulle gedigte en kortverhale is in verskeie bundels opgeneem.

Gebore op Springbok, het die sussies in Kimberley grootgeword en hulle skoolloopbaan by Hoërskool Noord-Kaap voltooi.

Lynthia studeer kreatiewe skryf in Afrikaans en Nederlands by Kovsies terwyl Sisca in taal en letterkunde by Sol Plaatje-universiteit studeer, asook ‘n internasionale skryfkursus aan die Universiteit van Iowa volg.

Lynthia lag en vertel haar psigiater het haar vertel van die Avbob Poetry Project en haar aangemoedig om in te skryf. Sy het ingeskryf en die kompetisie met haar gedig “Vir Aljarreau” gewen. Haar digbundel “Uit die kroes” is daarna in April 2020 uitgegee.

Sisca het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se kanselierstrustprys vir prosa in 2013 ,2014 en 2015 gewen, die eerste keer toe sy net 16 jaar oud was. Sy het ook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se kanselierstrustprys vir poësie in 2015 gewen – die eerste keer in die bestaan van die SA-akademie dat iemand meer as een keer en albei afdelings wen.

Sisca lag en sê Lynthia is die een wat meer praat en minder skryf en sy is die een wat meer skryf en minder praat.

“Sy het nie geweet hoe om natuurlike krulhare te onderhou nie en ek het haar geleer hoe mens dit moet doen. En toe wat doen sy? Toe skryf sy ‘n boek daaroor! Nou kan ek nie daaroor skryf nie, want almal gaan dink ek het haar ‘gecopy’.”

Lynthia sê alhoewel sy baie praat, skryf sy, want sy vind dit moeilik om oor emosies te praat.

Toe die vraag aan hulle gestel word oor wat die een prestasie is waarop hulle die trotsste is, het Sisca gesê dit is dat sy ‘n sukses gemaak het van haar lewe na swangerskap op ‘n jong ouderdom.

“Ek was net klaar met skool toe ek swanger geraak het en ‘n baba gehad het. Mense het almal gedink daar gaan my toekoms, maar nee. (Lynthea ‘chip’ in en sê: ‘If resilience was a person, it would be Sisca’.) Ek het steeds studeer en het die hoogste prestasie in al my vakke en die hoogste gemiddeld in geskiedenis gekry. Dit is waarop ek die trotsste is.”

Lynthia sê haar grootste presatsie was toe sy haar boek vir die eerste keer in haar hande vashou.

“Dit was in April 2020. Dit het so onwerklik gevoel. Ek het dit as kind altyd geglo, vir almal vertel ek gaan bekend wees. Maar êrens langs die pad hou mens op om dit te glo. Ek het net weer besluit om daarin te glo en ewe skielik, toe kom die boek.”

Die twee sussies het ook ‘n jonger broer, Carl Julius (21). Hy doen sy honneurs in Afrikaans oor die normering van variëteite en hy is ook die kaptein van sy krieketspan by Sol Plaatje-universiteit. Carl is ook ‘n “self taught” musikant.

Hulle liefde vir taal kom van hulle ouers af. “Ons is oorspronklik van Namakwaland. Natuurlike storievertellers. My ma het altyd vir my gelees en stories vertel. Dis waar my liefde vandaan gekom het,” vertel Lynthia.

“My liefde vir tale en skryf het weer van my pa af gekom. Ek moes gereeld saam met hom Bloemfontein toe ry vir my draadjies. Die tyd in die kar was ons tyd saam. Dit is daar wat ons oor stories en boeke gepraat het. Ons het altyd na ‘Skrywers en Boeke’ op RSG geluister,” vertel Sisca.

Sisca vertel ook haar gunstelingherinnering as kind was op haar sewende verjaarsdag.

“Dit het in daardie stadium baie swaar gegaan. Ek het nie ‘n geskenk gekry vir my verjaarsdag nie en was baie hartseer daaroor. Toe maak Lynthia vir my die mooiste kroon uit papier as ‘n verjaarsdaggeskenk.”

As hulle gevra word waar hulle hulself oor vyf jaar sien, sê Lynthia sy kan nie meer wag om dr. Julius te wees nie; sy is nou bietjie moeg vir mej. Julius wees. Sisca sê grapperig sy sal net graag haar huur wil betaal, aangesien dit so moeilik is vir skrywers om geld te maak.

Klik hier om meer oor die Julius-sussies se prestasies en ander onderhoude te kyk.

Lynthia
Sisca

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *