Min mense weet dat daar eens lank gelede ’n Kimberley-hospitaal was voor die huidige Kimberley-hospitaal (nou Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal) gebou is.
Hierdie eens pragtige gebou is in 1915 voltooi, maar is in Maart 1982 gesloop.
Bobby Cheetham (74) onthou van ’n tyd toe sy pa meer as 50 jaar gelede weens ’n hartaanval daar opgeneem was en sodoende ’n ontmoeting met die spook van die oorlede verpleegster en matrone, Henrietta Stockdale gehad het.
“Ek was om en by tien jaar oud toe my pa ’n hartaanval gehad het en in die hospitaal opgeneem is. Hy was in die Merriman-saal opgeneem en het ons vertel dit was een aand vreeslik warm.
“Hy het gesukkel om te slaap en het die lakens tot by sy enkels afgetrek. Deur die nag het ’n verpleegster, met ’n driehoekige sluier, in die saal ingekom. Sy het niks gesê nie, net die lakens weer bo-oor hom tot by sy bors getrek en weer geloop.
“Die volgende oggend het hy vir dr. Long gevra wie die suster is wat hom in die nag kom toetrek het. Die dokter het gesê die susters dra nie meer die driehoekige sluiers nie en het my pa toe gevra om haar te beskryf.
“Nadat my pa haar aan die dokter beskryf het, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dit is die spook van Henrietta Stockdale wat my pa besoek het. Volgens die dokter het pasiënte gereeld vir hom gesê hulle het haar gesien en sy het hulle deur die nag versorg.” Henrietta Stockdale het as verpleegster in die Carnarvon-hospitaal in Kimberley gewerk en is in 1879 tot matrone bevorder. Dit is ook toe sy begin het om verpleegsters formeel op te lei. Dit was die eerste keer dat verpleegsters in Suider-Afrika professioneel opgelei is. Sy is op 6 Oktober 1911 in Kimberley oorlede.




