’n Gat met ’n waterlek op die hoek van Mainstraat, skuins oorkant die Halfway House, wat reeds herstel is, veroorsaak steeds maande later probleme vir motoriste.
Die een baan van die pad is steeds afgesper maande nadat die waterlek en gat herstel is. Vir meer as ses maande het duisende liters waters in Mainstraat afgestroom.
Na vele berigte en klagtes het die Sol Plaatje-munisipaliteit uiteindelik die waterlek reggemaak en ‘n gedeelte van die gat toegegooi, maar steeds is een gedeelte van die baan versper en is dit moeilik om die versperring in die nag te sien.
Inwoners was eers bekommerd motoriste sal in die nag in die gat inry, maar nou is hulle bekommerd dat motoriste in die versperring sal vasry.
Brian Dohethy is een van die inwoners wat oor en oor die probleem rapporteer het.
Susan Human sê die gat is al vir meer as ’n jaar ‘n probleem. “Aankomende voertuie ry nou aan die kant waar jy moet opdraai. Ek het al ’n paar noue ontkomings daar gehad.”
Kimberley Online Co. het menigmale navraag by die Sol Plaatje-munisipaliteit rakende die probleem gedoen en wag steeds vir terugvoer.



