Rudi Nienaber by Contour.Studio in Bloemfontein is genomineer as een van die haarkappers in Bloemfontein wat in die afgelope tyd ’n baie goeie diens gelewer het.
Ons gesels met Rudi, wat al van ‘n baie jong ouderdom af met “mooimaakdinge doenig is”, oor hoe dit voel om as die beste haarkapper in Bloemfontein genomineer te wees, hoekom goeie kliëntediens vir hom belangrik is en hoekom hy so geniet wat hy doen.
Rudi vertel hoe hy glo al op driejarige ouderdom sy ma se hare met Lego-blokkies ingedraai het. “Ek het in die jaar 2000 grimering studeer en toe op die ouderdom van 25 besluit om my kwalifikasie in hare ook te voltooi. Daarna was alles wat ek doen eers… hoe sal ek sê, wettig.”
Rudi vertel hy werk saam met ‘n ongelooflike span talentvolle mense by Contour.Studio en Contour.Med wat spesialiseer in grimering, somatologie, mediese estetiese behandelings en nog baie verrassings wat in die pyplyn is.
“Dit is heerlik om deel te wees van ‘n span soos Contour.Studio en Contour.Med en steeds my kreatiewe individualiteit te kan behou as die ‘Main Coiff’ en om die enigste ‘haarkapper’ daar te wees, laat my nogal belangrik voel.”
Rudi vertel hy doen mans, dames én diegene wat nie met enige geslagsrolle identifiseer nie, se hare. “Krul, reguit, blonde, donker, rooi… Solank as wat daar hare is, kan ek help! En as jy nie baie het nie, is daar wel iemand in ons span wat nou saam met my sal werk om alle opsies te bied om die groei daarvan te herstel of selfs te kyk na meer drastiese stappe om jou dos terug te bring.”
Rudi is gekwalifiseer om hare en grimering te doen, maar sê as hy moes kies waarin hy spesialiseer – dit is supernaturalisme, om die kliënt so natuurlik moontlik te laat lyk, “al vat dit soms ure om die beste weergawe van jouself te wees”.
“Aangesien ek nou saam met Kryolan se talentvolle span werk, beveel ek wel soms aan dat een van die span volgens my kreatiewe voorstelle die kliënt se grimering doen. Aangesien ek die enigste haarstilis in die span is, moet ek bietjie meer daarop fokus om al die kliënte gediens te kry.”
Rudi vertel die vreemdste versoek wat hy al gekry het, was ‘n kliënt wat haar hare wou laat kleur, sny en blaas, maar dat hy haar hare deurgaans net met duur, gebottelde water moes spoel.
Om die dankbare glimlag in sy kliënte se oë te sien voor hulle die salon verlaat, is wat vir Rudi die lekkerste is van sy werk. “Dis dalk ‘n cliché, maar onmiddellike werksatisfaksie staan beslis uit as die lekkerste deel van dit wat ek doen.”
Hy sê wat vir hom nogal uitdagend is, is wanneer ‘n kliënt se keuses soms teenstrydig is met dit wat hy voel vir hulle ideaal sal wees. “Meeste kliënte luister graag na rede of moontlike aanpasssings vir persoonlike verbetering, maar daar is elke nou en dan ʼn kliënt met ‘hardnekkige behoeftes’ en dan moet ek die kliënt se behoeftes bo my beterwete, deur ervaring, toepas.”
Rudi vertel waarom goeie kliëntediens vir hom en sy span by Contour.Studio so belangrik is. “Jy kan die wêreld se beste wees in alles, maar as jy nie kliënte het nie, kan jy nie jou werk ten toon stel nie. Alhoewel mens oulike dingetjies doen vir kliënte, soos goeie koffie en koek en ʼn mooi atmosfeer, staan die bereidwilligheid om te luister na die kliënt se behoeftes en konsultasie rondom die eindresultaat vir my uit. Tyd is deesdae geweldig kosbaar en daarom probeer ek om so aanpasbaar moontlik te bly deur na ure, per afspraak, beskikbaar te wees.”
Rudi sê dis vir hom baie vleiend om as die beste haarkapper in Bloemfontein genomineer te wees. Ek ken baie van die haarkappers in Bloemfontein en ek het al baie van hulle werk gesien. Bloemfontein het nie net van die beste haarkappers in die land nie, maar in die wêreld. Dankie daarvoor, julle maak dit moeilik om nederig te bly.”
Contour.Studio is in die hartjie van Westdene. By President Steynstraat 15 vind jy vir Rudi en sy span by Contour.Studio en Contour.Med..



