VF Plus dien klag in teen Govan Mbeki-munisipaliteit oor rioolkrisis

Deel hierdie storie / Share this story

Aranda Nel-Buitendag: VF Plus-raadslid

Die VF Plus het weens die voortslepende rioolkrisis en -besoedeling op Evander ʼn klag by die polisie in Secunda ingedien teen die munisipale bestuurder, Lizzy Shabalala, van die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) vir die oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Omgewingsbestuurswet.

Die VF Plus het tot dié stap oorgegaan nadat versoeke aan die munisipaliteit om dringend die probleem op te los, op dowe ore geval het. Die party het in 2020 ook die Groen Skerpioene gevra om die rioolbesoedeling in veral Evander te ondersoek.

Die rioolpompstasie in Evander is al vir jare vervalle en is maande gelede boonop gevandaliseer, maar die munisipaliteit het eers hierdie week ʼn tender gefinaliseer vir die herstelwerk. Tot op hede is slegs ʼn muur om die pompstasie gebou, maar van herstelwerk is daar nie sprake nie.

Die riool vloei by twee verskillende plekke by die pompstasie uit en beland in die Langverwag-spruit wat in die Vaalrivier invloei. Dit beïnvloed landboubedrywighede in die Vaalrivier-omgewing nadelig. Grootskaalse visvrektes in die Eendedam in Secunda word vermoedelik weens rioolbesoedeling veroorsaak.

Die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit se versuim om infrastruktuur in stand te hou en betyds te vervang, maak inbraak op die gemeenskap se grondwetlike reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie, soos vervat in Artikel 24 van die Grondwet.

Inwoners moet op 1 November saam met die VF Plus opstaan, saamstaan en die onbevoegde ANC-beheerde munisipale raad vervang met ʼn bevoegde en verantwoordbare administrasie wat die dienste lewer waarvoor inwoners ten duurste betaal.