VRYSTAAT – Vier verdagtes het in die hof verskyn nadat hulle na bewering drie mans aangerand en ontvoer het. Die derde slagoffer word steeds vermis.
Ishmael Jali, Thaane Michael, Papiki Paulos Mokubelo en Mojalefa Piet Musa het die week in die landdroshof op Wepener verskyn. Die vier verdagtes is deur die hof borgtog toegestaan.
Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê daar word beweer dat die vier verdagtes op Vrydag 24 September 2021 drie mans van Kanana en Ebehaeser-hoogte naby Wepener ontvoer en na die Caledon-rivier op die Jammerdrift-plaas geneem het.
18-jarige steeds vermis
Volgens die verklarings van die twee slagoffers het ‘n groep mense van aparte minibustaxi hulle ontvoer en aangerand en hulle daarvan beskuldig dat hulle rooftogte in buitelandse winkels gepleeg het. Die derde slagoffer is glo geslaan tot op ‘n punt waar hy nie meer kon beweeg nie. Dit is toe die ander twee terug in die minibus gelaai is.
Een van die slagoffers, die 18-jarige Moratehi Sylvester Khiba, is laas deur die ander twee slagoffers by die rivier gesien lê. Sy skoonsuster het Moratehi die volgende dag as vermis by die Wepener-polisiestasie aangemeld.
Enige lid van die publiek wat inligting kan hê wat die polisie kan help om Moratehi Sylvester Khiba te vind, word versoek om die speurder Matailane Johannes Mothibi by 073 4048 277 of 051 5835 227 te kontak.

LEES OOK: Vrou in uniform wou glo ‘hond langs pad los’
LEES OOK: ‘Jesus was langs my bed’ – Hanna vertel van geboorte toe sy amper sterf
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



