My baba is hemel toe

Deel hierdie storie / Share this story

Danelle de Bruin (24), ’n mamma van drie kinders en een engel-babatjie, vertel wat sy moes deurmaak toe sy op 39 weke swanger uitvind haar ongebore baba is oorlede.

“Ek was 39 weke en vier dae swanger met my tweede meisiekind. Ek het op 8 Maart wakker geword en die oggend vir my ma gesê ek het van die vorige dag af nog nie die baba voel beweeg nie. Ek was nie bekommerd nie, want ek weet babas raak stil wanneer dit naby aan die tyd van geboorte kom. My ma het my toe in elk geval dokter toe geneem.

“Die dokter het my van daar hospitaal toe gestuur, want hy kon nie ’n hartklop opspoor nie. Ek is na die staatshospitaal in Kimberley en het ongeveer nege ure gewag net vir ’n suster om my te sien, my maag te voel en my urine te toets. Daarna moes ek nog om en by sewe ure wag om ’n sonar te laat doen.

“Tydens die sonar het hulle vir my gesê my baba is dood en het my daarna na die kraamsaal gevat, waar hulle my in ’n saal saam met ‘n ander vrou wat in kraam was, gesit het.

Dae het gekom en gegaan en elke keer wat ek die suster gevra het wanneer dit my beurt is, het sy net gesê daar is te veel vroue wat tans in kraam is.

“Ek moes vir drie dae so loop met my dooie baba binne-in my. Op 11 Maart om 06:00 was dit uiteindelik my beurt en ek het ’n induksie gekry. Na ’n paar uur het ek begin pyne kry en ek het die suster gevra of sy vir my iets kan gee vir die pyn. Die suster was bitter onbeskof en het wel vir my ’n drup opgesit, maar met geen pynmedikasie nie.

“Ek het na ’n tyd gesmeek vir ’n keiser, maar die susters het eerder vir my gelag. Dit was hel. So rondom 13:30 het die suster vir my gesê ek behoort 16:00 te kraam, maar ek het vir haar gesê ek moet nou kraam. Mens ken mos jou lyf. Maar sy wou niks weet nie. Sy het gesê ek kraam vieruur en klaar.

“Na ’n traumatiese gestryery is my dogtertjie om 14:01 gebore. Dit was vir my baie erg. Ek kon haar nie aantrek nie en het die suster gevra om dit vir my te doen. Hulle het haar aangetrek en vir my gegee. Ek het haar vasgehou en ’n paar foto’s geneem. Na so twee of drie ure het hulle haar by my kom haal.

“Na die tyd wou ’n suster my in die gewone saal saam met al die ander mammas sit, maar gelukkig het ’n ander suster gekeer en hulle het my na ’n private kamer geneem.

“Dit was die verskriklikste ervaring van my lewe. Ek het na die tyd bly dink hoe haar lewe moontlik gered kon word as hulle dadelik opgetree het en my dalk ’n keiser gegee het. Dalk sou dit geen verskil gemaak het nie, maar wonderwerke gebeur tog.”

“The Lord decided that she was too beautiful for earth, so he gave her wings to stay safe with him until it’s time to meet again.”