Cobus Zeelie (53), Niki Zeelie (35) en hulle seun, Daniel Zeelie (16), die hele gesin, het hierdie maand positief vir Covid-19 getoets. Hulle is van die gelukkiges wat van die virus herstel het.
Die paartjie is al nege jaar getroud en al 17 jaar saam.
Niki vertel Cobus het op 8 September 2021 begin sleg voel, maar hulle het eers gedink dit is net ‘n allergie.
“Ek het hom by die huis begin dokter om te voorkom dat hy sieker word, maar teen die Donderdag was hy steeds nie beter nie en ek het ook begin siek raak. My kop het heeltyd gepyn en niks het daarvoor gewerk nie. My neus het daardie aand begin toetrek en ek het koors gekry.”
Teen die Vrydag was hulle albei baie siek en Cobus moes van die werk af huis toe gaan. Hulle kon nie onmiddellik gaan vir die Covid-19-toets nie en het hulleself by die huis geïsoleer totdat hulle die 13de kon gaan toets.
“Ons het die Maandag by die Connie Vorster-hospitaal op Hartswater gaan toets en die 15de het ons uitgevind ons al drie is positief.
“Ons is dokter toe vir ondersoeke en medikasie. Ons het elke dag seker gemaak ons drink ons medikasie, maar het elke dag al hoe sieker en sieker gevoel.”
Niki vertel Daniel het nie so siek soos sy ouers geword nie. Hy het net sy reuk en smaak verloor en sukkel in hierdie stadium steeds daarmee.
“Agt dae nadat ons gaan toets het, was dit regtig die ergste. Ons was bitter siek en het gevoel asof ons wou doodgaan. Ek was dronk en duiselig. Ek was heel van balans af.”
Sowat 12 dae nadat hulle positief getoets het, het hulle stelselmatig begin beter voel.
“Ons kon weer rondbeweeg. Terwyl ons siek was, het ons net heeltyd geslaap of gelê. Ek het gereeld ’n ‘nebulizer’ gebruik om my sinuskanale oop te hou sodat ek kon inasem en my neus oophou. Een ding is seker, soos hulle sê, Covid veroorsaak vreeslik baie slym op die bors en in jou neus.
“My man is terug werk toe na die isolasietydperk en ek het nog bietjie aangesterk by die huis omdat ek gereeld duiselig geword het daarna. So ‘n week na ons siek was, het meeste goed weer normaal begin voel en ruik. Elke persoon lyk my hou iets van die Covid-storie oor en in my geval sit ek net met die gewone sinusding waarmee almal sukkel. Verder het ons almal ten volle genees, dank Vader vir dit.”
Niki sê dit is baie belangrik om aan te hou om jou medikasie te kry. Sy sê ook haar gesin het toe die pandemie uitbreek, begin gesond eet en ekstra vitamiene gedrink.
“Ek mag dalk verkeerd wees, maar ek dink dit het bygedra daartoe dat ons nie so ernstig siek geword het nie. Ons gaan nou steeds voortgaan om gesond te lewe en ons vitamiene te drink.”




