Ilse Olivier (43), onderwyseres by Oranje Meisieskool in Bloemfontein, gee al vir 21 jaar lank skool en is vir die laaste 14 jaar ‘n onderwyseres by OMS.
Ilse en haar man, Neil Olivier, het twee pragtige kinders, Riley (10) en Mila (5).
Ilse sê haar motto in die lewe is om elke dag voluit te leef en die beste van elke dag te maak.
Ilse gee rekeningkunde as ‘n vak vir graad 8 tot 12, EBW vir graad 8 tot 9, ekstra klasse in ekonomie en is ook die departementshoof van al die handelsvakke by die skool.
Ilse het ná skool rekeningkunde gaan studeer omdat sy “nie regtig geweet het wat sy wou doen nie”. “In my derde jaar het die Here my gelei in my keuse om my onderwysdiploma te gaan doen en ek het so onderwys begin studeer. Ek voel dit is my roeping.”
Twee van Ilse se leerlinge, Chané Nel (graad 12) en Lara Potgieter (graad 10) het aan vanjaar se Proverto EMS Olimpiade deelgeneem. Shané het ‘n tweede plek landwyd verwerf en Lara het nasionaal eerste gekom in haar afdeling.
Ilse sê sy is baie trots op die leerlinge en die feit dat hulle so hard werk, is vir haar ook baie belangrik.
“Die prestasie maak al die tyd wat ons insit, die moeite werd. Dit maak ‘n mens so trots.”
In haar vrye tyd verkies Ilse om tyd saam met haar familie en vriende deur te bring en het sy ook ‘n deeltydse verkoopbesigheid. “Ek lees ook soms wanneer ek ‘n tydjie kry.”



