Dit is blykbaar hoogsbetalend, maar uiters gevaarlik om met bedreigde plante te smous.
So het drie jongmense van die Namakwa-omgewing onlangs uitgevind toe hulle met die gereg gebots het. Duur borgtog was hulle voorland. ‘n Rooi VW Golf en al drie se selfone is gekonfiskeer.
Sean Magerman (25), Bradley Saal (24) en sy verloofde, Tarron-Leigh Joseph (24) is onlangs op die N7 vasgetrek weens die besit en vervoer van bedreigde vetplante, veral die gewilde Conophytum-spesies
Volgens die polisie van Moorreesburg is hulle na ‘n wenk van die publiek vasgetrek. Altesaam 2 331 plantjies is in die voertuig gevind. Die meeste is waarskynlik bedreigde spesies en volgens ‘n ingeligte afkomstig van die Namakwaland-omgewing. Kontant ter waarde van R80 000 was ook in hulle besit gevind en op beslag gelê.
Die drie kon nie enige bewys voorlê wat aandui waarom hulle in besit van die bedreigde plante was nie, ingevolge natuurbewaringsordonnansie 19 (1974), Art 42 (1) saamgelees met Art 72.
Hulle het reeds op Moorreesburg in die hof verskyn op aanklagte van die besit van plante. Beide se borgtog is op R25 000 elk vasgestel. Hulle volgende verskyning is weer op 26 Oktober op Moorreesburg. Die ondersoekbeampte
in die saak is a.o. Rudi Lourens.
Magerman is tans uit op borgtog van R2 000 vir ‘n soortgelyke oortreding in die ZF Mgcwu-streek, by Upington.
Kapt. Paulus Swartbooi, van die Namas, het vroeër verontwaardig gesê dat die plaaslike mense hulle nie moet wend tot die vernietiging van plaaslike skaars en bedreigde flora en fauna nie. Hy was ook dankbaar dat die wetstoepassers alles probeer om die misdadigers vas te vat. Hy het verder gesê:
“Ons mense moet egter ook nie uitgelok word om hulle arm omstandighede so te probeer verbeter nie. Daar moet ook gekyk word na die toerismebedryf, want baie van die sogenaamde toeriste kom en vernietig ook ons natuur sonder dat teen hulle opgetree word.”
Swartbooi voel ook dat die plaaslike mense bemagtig moet word sodat hulle presies weet watter plante bedreig is of nie. Sodoende sal die natuurlike hulpbronne van Namakwaland nie so onnodig vernietig word nie, volgens hom.
Dit het intussen aan die lig gekom dat die Chinese en Koreane van die gewildste kopers is van Suid-Afrikaanse bedreigde spesies. Hiervoor betaal hulle jaarliks miljoene rande.
Kapt. Karel du Toit, hoof vir die eenheid vir veediefstal en bedreigde plantspesies op Springbok, wou nie aandui of hierdie plante van die Namakwa-streek af kom nie. Hy het egter voorheen vertel dat die Conophytum-spesies nou die “in ding” is vir veral Chinese en Koreane.
Weens die Covid-pandemie maak hulle van veral werklose plaaslike mense gebruik om die plante te versamel en te verkoop aan die Oosterlinge.
Dis egter baie kommerwekkend om te weet dat baie min polisie- of doeanebeamptes blykbaar in staat is om Conophytum-spesies te identifiseer, of die verskil tussen ‘n wilde veld-Conophytum en een wat in ‘n kwekery gekweek was, te weet.

Volg FiND iT hier.



