‘Dis onmoontlik om die verwoesting van die brande te beskryf’

Deel hierdie storie / Share this story

Kyk na hierdie foto van ‘n skilpad wat die DBV in Kimberley gered het ná die vernietigende brande in Kimberley en omliggende areas.

“Alhoewel ons op die verskriklikste tonele in die veld afgekom het ná die vernietigende brande in Kimberley, het ons ook goeie stories om te vertel,” skryf die DBV op sy Facebook-blad.

Die DBV het in die laaste paar dae verskeie diere gered en behandel. “Hulle is die gelukkiges. Hulle is dié wat ‘n tweede kans in die lewe kry, waarvoor ons so dankbaar is.”

Die skilpad op die foto kry welverdiende aandag van veearts dr. Emma Rambert na hy deur die DBV gered is.

Verder sê die DBV hy is dankbaar vir die boere en ander rolspelers wat vir dae aaneen teen die brand moes veg. “Ons prys die lede van die gemeenskap en besighede wat hulle harte en beursies oopgemaak het om nie net die brandbestryders nie, maar ook diegene wat die diere help, te ondersteun.”

“Ons harte gaan uit na almal wat ‘n verlies ly weens die brande. En ons harte hou aan breek om die gevolge van die vuur in die diere se lewens te sien. Jong bababokkies wat sonder ‘n ma gelaat word, skilpaaie wat stadig oor ‘n verskroeide stuk veld beweeg, op soek na ‘n bietjie verligting. Dis onmoontlik om die verwoesting wat die brande gesaai het, te beskryf.”

Die DBV het aan FiND iT bevestig daar is steeds van sy lede in die veld om diere te red en hulle vra vir voorbidding.

FiND iT het by die DBV navraag gedoen oor hoeveel diere hulle tot dusver gered of behandel het en wag nog vir terugvoer.