KIMBERLEY – Oom Bushy Oliver, ’n baie bekende en geliefde Kimberliet en legendariese Griekwa-ondersteuner, is in die ouderdom van 88 in ’n hospitaal in Kimberley oorlede.
Hy sou in Desember sy 89ste verjaardag vier en het in sy 88 jaar in duisende mense regoor die land se harte gekruip.

Oom Bushy se lewe
Oom Bushy, oftewel Eric Reginald Oliver, is in 1932 in Kimberley gebore. Hy het aan Boys High in Kimberley gematrikuleer en daarna het hy begin werk. Behalwe vir ‘n vakleerlingskap by Northern Diesel Services en senior vervoerbeampte by Sol Plaatje-munisipaliteit, was oom Bushy ook ‘n professionele boksafrigter. Bokslegendes soos Charlie Weir en baie ander jong boksers is oor die jare deur sy hande.
Bekend as Griekwa-ondersteuner
Oom Bushy is egter nie net aan Kimberliete bekend nie. Hy was ook vir baie jare al ‘n passievolle ondersteuner van die Griekwas-rugbyspan en ook ander sportspanne. In die vroeë 2000’s het hy net voor ‘n wedstryd tussen die Vodacom Cheetahs en die Hurricanes met ‘n valskerm op die veld geland.
Daar is selfs ‘n boek, getiteld Hi, I’m Bushy, oor sy lewe geskryf.

Onlangs heup gebreek
Oom Bushy het op 10 September 2021 nog ’n operasie ondergaan na hy sy heup gebreek het toe hy geval het.
Sy seun, Billy Oliver, het na die operasie aan FiND iT gesê dit gaan goed met Oom Bushy.
Begrafnisreëlings sal later getref word.




