Zelda Ackerman (32), eienaar van JumpFit Kimberley, het haar lewe in Bloemfontein agtergelaat om Kimberley toe te trek toe sy die liefde van haar lewe ontmoet het. So ook het ’n groot droom om haar eie rebounding-studio oop te maak, ’n realiteit geword.
JumpFit is ’n dinamiese vollyf oefening op “mini”-trampoliene wat amper geen impak op ’n persoon se gewrigte het nie.
Zelda het twee seuns, Jeremy (11) en Zach (6) en is tans in ’n verhouding met Louwtjie Kotze, wat ook haar “not-so-silent” vennoot van JumpFit is.
“Ek was in Bloem gebore en het in Desember 2020 Kimberley toe getrek om ons nuwe lewens saam met Louwtjie te begin. Toe ek nog in Bloem gebly het, het ek vir n paar maande “rebounding”-klasse bygewoon en was mal daaroor! Dit was iets heel anders en ek het asemrowende resultate in ’n baie kort tyd gekry. Ek het gewig verloor en het vinnig fiks geword. Ek het die gedagte gekry dat ek my eie studio wil begin, maar toe gebeur die lewe.”
Zelda vertel nadat sy vir Louwtjie in 2019 ontmoet het en sy besluit het om ’n jaar later Kimberley toe te trek, het sy geweet sy wil graag vir haarself werk.
“Ek het die idee met Louwtjie bespreek, en toe word hy sommer my “not-so-silent” vennoot. Dit was hoe JumpFit gebore is. Ek het die naam uitgedink, navorsing gedoen, my opleiding gekry, my eie logo ontwerp en toe begin ek op Facebook adverteer. Elke nodige ding het in plek geval.
“Terwyl ek nog in Bloem was, het ek begin marknavorsing doen en die aanvraag was hoog en ons het sommer dadelik weggespring met inskrywings. Ons is deur baie leerskole, het baie hard gewerk, maar ons het deurgedruk. My droom was besig om te realiseer. Ons het JumpFit se opening op die 26ste Januarie 2021 gehad en dit was van dag een af lekker besig en baie pret vir myself en vir my kliënte.”
Zelda vertel ook dit het so goed gegaan dat sy in bietjie meer as twee maande twee nuwe instrukteurs, Janinda en Tanya, kon aanstel om haar te help met nog klasse en klasse vir kinders.
“JumpFit is nie net ’n besigheid nie. My droom was en is nog steeds dat JumpFit ’n veilige en gemaklike plek is waar ENIGE vrou lekker kan kom oefen en haarself geniet en net haarself kan wees. Ons gaan uit ons pad uit om almal te laat welkom voel, sonder enige oordeel. Dit maak nie saak of dit die eerste keer is wat jy oefen, of dat jy al jare lank oefen nie – daar is plek vir jou. “Wat vir my so opvallend is, is die ondersteuning van die dames onder mekaar. Hulle ondersteun en help mekaar graag en die atmosfeer is hartlik. Vrouens is oor die algemeen baie krities teenoor hulself, en baie kere is hulle te selfbewus om te begin oefen. Ek ken daai gevoel baie goed. By ons maak dit nie saak hoe oud, jonk, groot, klein, fiks of onfiks jy is nie.”




