Die Demokratiese Alliansie (DA) spreek hulle dank uit aan boere en die burgerlike samelewing, wat die afgelope drie dae weer die ware helde was in die jongste brandbestrydingspogings om die veldbrande in verskillende gebiede van die Noord-Kaap te bestry.
“Dit terwyl die regering weereens nie genoegsame ondersteuning gebied het nie, en selfs nie eens ’n bykomende brandweerwa en ’n watertenkwa van 10 000 liter wou bewillig nie – dit het op die erf van die Frances Baard-munisipaliteit geparkeer gestaan in plaas daarvan om daarvan gebruik te maak om die vlamme te bestry,” sê Reinette Liebenberg, LPW van die DA.
Landerye is uitgewis, infrastruktuur is vernietig en talle diere het gesterf of ly weens die brande.
“Die ergste van alles is dat beduidende vernietiging voorkom kon word as die regering vinnig reageer het en lug- en grondondersteuning gebied het om opvlamings te monitor, toe brande oor die naweek reeds ontstaan het.
“Dit is een van die vele buitensporig vernietigende brande wat die afgelope maande die provinsie gekwel het, maar steeds slaag die regering nie daarin om die gebrek aan interregeringverhoudinge aan te spreek om doeltreffende rampbestuur te verseker nie.”
In 2019 het die provinsiale regering geld aan ’n konsultant betaal vir die ontwikkeling van ’n rampbestuursplan. ’n Jaar gelede het die nasionale departement van COGTA provinsies dringend opdrag gegee om hul rampbestuursforums te versterk. Slegs ’n paar weke gelede het premier Zamani Saul weer erken dat daar ernstige mislukkings op alle gebiede van die rampbestuursektor is.
“Die regering versuim om volgens die Wet op Rampbestuur op te tree om rampe te voorkom, te monitor en daarop te reageer. Hulle het vinnig op die onlangse oorstromings gereageer, waarom kan hulle nie met dieselfde vasberadenheid reageer as dit by brande kom nie?”
Die DA vra intydse ondersteuning vir boere van die provinsiale regering.
“Gegewe ons kommer oor die omvang van die brande in die Noord-Kaap, veral in die lig van uiterste droogtetoestande en die gebrek aan donderstormaktiwiteite in die gebied, sal ons ook ’n hoëvlak-ondersoek na die oorsake aanvra. Ons doen ook ’n beroep op die gemeenskap om enige moontlike vorm van nalatigheid wat die veldbrande veroorsaak het, by die owerhede aan te meld om verdere brande die Noord-Kaap te verhoed.”
LEES OOK: Noord-Kaap-Brande: Hoe Kimberley nou vanuit die lug lyk



