Die 52-jarige Grace Nelson vertel hartseer hoe haar kind se dwelmprobleme en haar mislukte pogings om hom te laat arresteer of by ‘n rehabilitasiesentrum te kry, haar lewe stadig maar seker verwoes.
Nelson se seun (23) is al vir ‘n paar jaar met dwelms betrokke en sy vertel hoe dit die laaste ruk ondraaglik geraak het vir haar.
“Wanneer ek by die werk is, bekommer ek my heeltyd oor wanneer hy volgende by die huis gaan inbreek. Wanneer ek by die huis is, bekommer ek my oor my, my dogter en my twee kleindogters se lewens wat in gevaar is as hy daar sou aankom.”
Nelson vertel van die laaste insident wat haar vir haar lewe laat vrees. “Die vorige keer wat hy by die huis was, het hy ‘n mes gehad en hy het aanhoudend gedreig dat hy ons sal kom doodmaak. Ek kan nie meer so leef nie. Dit raak nou te erg.”
Nelson het in die laaste vier jaar al verskeie sake by die polisie oopgemaak ná haar seun haar van byna al haar waardevolle besittings beroof het.
“Nes ek ‘n nuwe gasstoof of ‘n nuwe selfoon het, breek hy in en steel dit. Ons het heinings voor die huis en dit maak nie saak of ons dit sluit of wat nie, hy sal ‘n manier kry om in te kom.”
Sy vertel sy is al raadop en hartgebroke oor wat aan die gang is. “Ek het al selfs so ver gegaan om ‘n interdik teen my seun te kry. Ek het maande gelede al by maatskaplike dienste aansoek gedoen dat hy na ‘n rehabilitasiesentrum toe kan gaan, maar die saak hang net in die lug. Ek word aanhoudend na iemand anders verwys en intussen raak alles net erger.”
“Ek wil net graag weet wat gaan gebeur as die staat te laat ingryp. Moet hulle nou wag tot iets groots gebeur voor hulle ingryp? En dan is dit te laat. Dan moet ek met die ‘sorry’ saamleef?”
FiND iT het by die polisie navraag gedoen en wag nog vir terugvoer.



