Die jongste misdaadstatistieke wys huisbrake het tydens die pandemie die hoogte ingeskiet. Statistieke het ook bewys mense skerp hulle veiligheidsbewustheid op en bring ekstra sekuriteit by hulle huise aan om hulle veiligheid en dié van hulle besittings te verseker.
Om jou sekuriteit by jou huis op te skerp, is gewoonlik een van die eerste dinge wat mense doen, maar meer en meer mense word deesdae op straat aangeval en beroof. Statistieke bewys ook meeste gevalle van geweld soos moord vind by die slagoffer of die verdagte se huise plaas.
Wickus Coetzee, eienaar van Scorp Security, sê hulle het selfs ’n toename in gevalle gesien waar mense aangeval en beroof word wanneer hulle gaan stap.
“Daar gebeur ook meer en meer inbrake helder oordag by huise. Die aandklokreël help bietjie, veral omdat paaie dan stil is en ons dit makliker vind om mense te identifiseer en te verwyder.
“Daar is veral ook ’n groot probleem met motors wat buite staan en nie in ’n motorhuis getrek is nie.”
Coetzee sê ook dit wil voorkom asof kriminele deesdae meer arrogant en gevaarlik is. Hy raai ook mense aan om nie hawelose mense by jou huis kos te gee nie.
“Ons het die laaste tyd baie gesien dat barmhartige Samaritane beroof word wanneer hulle vir haweloses kos by hulle huise gee. Ek sal aanraai dat mense ophou om kos by hulle huise, selfs deur die hek te gee. As jy wil help, skenk eerder kos aan kerke of laai dit by afsetpunte af.”
Hier is paar maniere hoe jy jou sekuriteit kan opskerp en huisbrake vermy:
- Stewige muur of palissadeheining.
- Veilige en stewige hekke en motorhuisdeure wat afstandbeheer het. Dit maak kanse vir kriminele baie beperk as jy nie uit jou motor uit hoef te klim om hekke oop te maak nie. Maak seker dat die hekke nie met ’n koevoet van hul relings afgehys kan word nie en dat die hekmotors goed weggesteek is en nie maklik toeganklik is nie.
- ’n Elektriese heining bied ‘n ekstra veiligheidsversperring en dien as ’n verdere afskrikmiddel vir misdadigers.
- Security beams rondom jou huis en binne jou huis moet opgestel word sodat verskillende sones na behoefte geaktiveer kan word. Dit dien as ’n vroeë waarskuwingstelsel.
- Diefwering aan vensters en veiligheidshekke op alle deure.
- Klein hondjies in die huis is ’n baie onderskatte veiligheidsmaatreël.
- CCTV-stelsels word toenemend bekostigbaar en bied ’n maklike manier om jou eiendom dop te hou. Jy kan selfs jou huis per afstand monitor via ’n slimfoon-app. Dit kan waardevolle beeldmateriaal bied as daar by jou huis ingebreek word.
LEES OOK: Ouma Katrina se bakkie deur ANC-raadslede weggevat



