Ouma Katrina Esau (88), ’n inwoner van Upington en die heel laaste vlot spreker van N | uu, Suid-Afrika se heel laaste bestaande San-taal, se bakkie is deur ANC-raadslede weggeneem.
Ouma Katrina word as ’n legende beskryf en as gevolg van als wat sy vir kuns en kultuur in ons land doen, het die premier, dr. Zamani Saul, vir haar n splinternuwe bakkie op 20 Julie 2021 geskenk.
Die bakkie kon sy gebruik vir alledaagse doeleindes, sowel as vir haar skooltjie.
ANC-raadslede het egter Sondag die bakkie by haar afgevat en nie lank daarna nie is glo gesien hoe drank en kos met die bakkie afgelaai word.
Ouma Katrina glo gevloek
Volgens ooggetuies is daar op Ouma Katrina gevloek en die sleutels van die bakkie geëis.
Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, het in ’n persverklaring gesê dit het aan die lig gekom dat ’n bakkie wat deur premier Saul geskenk is aan Ouma Katrina teruggeneem is deur raadslede van die ANC.
“Ouma Katrina Esau is tot Nasionale Menslike Skat deur die departement van sport, kuns en kultuur verklaar. Die bakkie is nie ’n party-politieke skenking nie, maar ’n skenking wat die regering aan Ouma Katrina gemaak het. Dit is baie belangrik om die skeiding tussen party en staat te handhaaf.
“Die ANC in die provinsie is gewalg oor die optrede van die raadslede en eis dat diegene wat betrokke is, dringend aangespreek moet word. Ons doen dus ’n beroep dat reël 25 van die ANC-grondwet gehandhaaf word en dissiplinêre optrede moet ingestel word teen die ANC-raadslede wat hierby betrokke was.
“’n Omvattende verslag moet voor of op 30 September 2021 by die kantoor van die provinsiale sekretaris ingedien word.”
Die voertuig is sedertdien aan Ouma Katrina terugbesorg.
Ouma Katrina het aan FiND iT gesê die insident is reeds uitgesorteer en dit was ’n misverstand.
FiND iT het die premierskantoor om kommentaar genader en wag vir terugvoer.
LEES OOK: ‘Geestelike naald’ verwyder na jare se hoofpyn





