‘Geestelike naald’ verwyder na jare se hoofpyn

Deel hierdie storie / Share this story

Twyfel jy of God lewe? Bestaan sy Heilige Gees? Vrees jy vir jou lewe?

Sonja Bothma (29), ’n mamma van twee pragtige seuntjies, vertel haar getuienis van hoe die Here ’n geestelike naald uit haar nek verwyder het nadat iemand haar met ’n voodoo-pop vervloek het.

Sy is in Kimberley gebore, maar het op Delportshoop grootgeword. In 2007 het sy weer na Kimberley verhuis en haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Noord-Kaap voltooi.

Sonja is reeds vir vyf jaar met haar beste vriend getroud. Sy het egter geweldige hoofpyne gekry wat nie medies verklaar kon word nie.

Sonja vertel dit is nou om en by vyf tot ses jaar wat sy die Here dien en tot bekering gekom het.

“Ek het altyd geweet van Hom, maar het Hom nooit opreg gedien nie. Toe ek tot bekering gekom het, het ek bevryding gedoen en al my erfsondes afgesny.”

Sy vertel die hoofpyne was sommige tye erger as ander.

“Ek het dit herhaaldelik gekry, veral op naweke. Dit was veral erger wanneer ek tyd saam met my familie moes deurbring.

“Ek het so aangegaan want medies gewys, was daar niks fout met my nie. In Augustus 2015 het ek my laat grootdoop en daardie spesifieke dag was dit baie erger. Dit het gevoel of my kop wil ontplof. Ek het die Here gevra om my te wys wat die hoofpyne veroorsaak.”

Sonja sê sy was een Sondag by ’n aanddiens en die Heilige Gees het haar gelei om na vore te gaan.

“Die pastoor het vir my gevra waarvoor hy vir my kan bid en ek het hom verduidelik van die hoofpyne. In daardie stadium het ek al ’n jaar en ses maande met die hoofpyne geloop.

“Die Heilige Gees openbaar toe aan die pastoor dat daar ’n naald agter in my nekwerwel is. Die pastoor het gebid en die naald “geestelik uitgetrek”. Ek kon dit voel. Die pastoor sê toe vir my daar is iemand wat my haat en die persoon het my vervloek deur ’n voedoepop te gebruik om vir my pyn te veroorsaak.

“Daarna het die hoofpyne nooit weer teruggekom nie. Ek het besef dat ons stryd nie teen vlees en bloed is, maar teen die bose magte in die wêreld (Efesiërs 6:12).

“Vandag is ek genees en ek prys die Here daarvoor. Dit is Sy bloed wat ons bedek en ons beskerm.”

“Die Here wil ook nie hê ons moet bang wees vir die dood nie. Veral in hierdie onsekere tye van die pandemie. Hy is in beheer en dit is uit ons hande uit. Hy bepaal wanneer jy leef en wanneer jy sterf. Die Here se plan met ons is om ’n nuwe lewe saam met hom te begin. Moenie vrees vir jou lewe nie, maar vrees God. Hy is in beheer. Maak seker jou saak met die Here is reg. Al sterf ons nou, is dit wanneer ons lewe eintlik begin. Die lewe is net tydelik.

“Die Here is altyd goed, in goeie en in slegte tye. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, vertrou op Hom. My vertroue in Hom hou my nederig by Sy voete.”