Sketse kry lewe met metaal

Deel hierdie storie / Share this story

Hendrie Kruger (28) van H&K Metal Sculptures, sê hy skets al van jongs af, maar om te skets,was nie vir hom genoeg nie. Hy wou sy sketse lewe gee.

Hendrie is verloof aan ’n wonderlike dame en die paartjie het een seuntjie van drie jaar oud.

Hy is gebore in Pretoria, maar het in 2004 na Kimberley verhuis waar hy sy skoolloopbaan by Hoërskool NJ Heyns klaargemaak het. Metaalbeeldhouwerk is tans sy voltydse beroep.

Hendrie vertel hy het op skool altyd eenkant gesit en skets.

“My kuns kom al van kinderdae af, so ver as wat ek kan terugdink. Ek het altyd geskets en geteken, al was dit altyd eenkant en al het ek nooit gespog met my prente nie. Ek sou altyd in klastye teken. Ek het nooit regtig gehou van lees en boeke nie, omdat ek maar baie lui was wanneer dit by skryfwerk gekom het. Om te teken en sketse te maak, was maar my toppunt. Teken was later ook nie genoeg vir my nie, ek wou altyd my sketse lewe gee.”

Hendrie het sweisstudies geneem en was mal daaroor, maar dit het hom laat dink.

“Ek was goed opgelei daarin en was mal daaroor, maar sweis was net sweis. Na ’n tyd het ek begin dink hoekom smelt ek nie die twee saam nie? Vat my sketse, die staal en my sweismasjien en so het ek met my beeldhouwerk begin.”

Soms het dit maar taai gegaan, maar hy vertel hy het nooit moed verloor nie.

“Dit bring baie vreugde in my binneste. Dis daai stukkie van jou wat jy in daai beeld plaas wat vir altyd daar sal wees. Soms leer my eie kunswerke my meer oor wat iets kan beteken en wat ons wêreld so kosbaar maak. Al my beelde dra my kennis en netso ontvang ek ook.”

Hendrie sê hy het vroeg al geleer dat rustig wees die kuur is vir frustrasie en “artist block.”

“Ek het al baie geleer dat om rustig te wees en kalm te raak wanneer jy soms in ’n moeilikste situasie sit of iets nie regkry nie, die beste antwoord is. Ja, dit klink maklik, maar dis oefening deur jouself te vertrou. Haal diep asem, vat ’n breek, kom terug, probeer weer. As iets nie uitwerk nie, moenie in jouself twyfel nie. Kom later weer terug en jy sal dinge anders sien. Ek maak soms groot foute op my beelde, maar om kwaad te raak, gaan nie my kop skoon kry nie. Dit kom als van ’n kalmte in jou binneste af, van kop tot hart.”

Hendrie gebruik meestal staaldraad, gewone staal, roundbar en ’n sweismasjien. Hy is nou drie jaar voltyds in die bedryf.

“Almal het ’n spesiale talent. Moet nooit ophou droom en jou drome jaag nie. Niks is onmoontlik nie. As jy nie iets regkry nie, probeer weer. Dit is bereikbaar deur in jouself te glo en te vertrou. Daar bestaan nie so iets soos jy kan nie, as jy dit nie self probeer het nie. Probeer altyd eers en vertrou jou binneste.”