‘n Passie vir water en kleintjies

Deel hierdie storie / Share this story

Rozanne Myburgh (31) van Born 2 Swim in Bloemfontein, ’n swemskooltjie vir babas van so jonk as ses maande oud, gesels met ons oor die uitdagings wat sy in die bedryf ervaar, hoe lief sy is vir wat sy doen en hoeveel sy die kleintjies en die swemmery geniet.

Born 2 Swim is in 2020 gebore en Rozanne vertel hoe sy vyf jaar gelede al begin swem het. “Dit het baie vreemd begin. Ek het die dag ’n vriendin van my wat in die nood was, gaan help. Sy het baie kindertjies in daardie stadium gehad en toe ek in daai water klim, het ek besef dis waarvoor ek lief is en dis waar ek wil wees.”

Rozanne vertel sy het eers onderwys studeer en vir ’n rukkie lank skoolgehou voor sy haar droom om kindertjies te leer swem, kon begin uitleef. “Terwyl ek skoolgehou het, het ek my vriendin begin uithelp en daar het ’n liefde in my hart begin ontwikkel vir die water en vir die kleintjies.”

Rozanne sê sy sal die ander swemskole waar sy al geswem het, ewig dankbaar wees. “Ons is maar ’n klein swemgemeenskappie en ons ondersteun mekaar waar ons kan. Ons leer nogsteeds, maak nie saak hoe lank ons al swem nie. Dis waarvandaan my passie vir kinders gekom het.”

“Ek het eers net ’n swembad gehuur en onder my eie naam begin swem. Dit het my die geleentheid gegee om eers op my eie aan te gaan en my eie voete te vind.”

Rozanne vertel daar is geen ouderdomsbeperking op swemlesse nie.

“Ons begin by die basiese waterveiligheid. My motto is om hulle ’n liefde vir water te leer. Ons begin baie mooi stadig. Ek sal byvoorbeeld eers vooraf met ’n kind gesels en maatjies maak voor ons die water aanpak. Ons fokus dan op waterveiligheid, hoe om gemaklik in die water te wees. Dan leer ons hoe om snaakse goedjies in die water te doen, soos hoe om om te draai of op ons ruggies te swem. As hulle dan alles mooi kan doen, begin ons met hale. Van daar kan hulle dan by skole of klubs begin swem.”

Rozanne sê hoe vinniger jy leer om te swem, hoe makliker gaan jy later in die water gemaklik kan wees. “Daar is baie keer mammas wat bang is om hulle kinders naby die water te bring, soms omdat hulleself ’n slegte ervaring in die water gehad het. Of die kind het dalk op ’n jong ouderdom in die water geval. In meeste gevalle is die ma’s egter banger as die kinders om te kom leer swem.”

“Maar dis hoekom ons hier is. Ons is hier om die kinders op ’n baie mooi manier te leer swem sodat hulle eendag ’n baie groot liefde daarvoor het.”

Aan mammas wat miskien hulle kinders by ’n swemskool wil inskryf, maar nog onseker is, sê  Rozanne:

“Gaan besoek elke swemskool. Maak ’n afspraak of daag net op en gaan kyk hoe lyk die fasiliteite, gaan kyk hoe is die instrukteurs, hoor wat hulle saam met ’n ma doen en of hulle die ma’s betrokke het by die lesse.”

Rozanne sê by Born 2 Swim swem die mammas van die babas van ses tot 24 maande vir ’n rukkie saam en is die ouers welkom om langs die swembad te sit en te kyk na die lesse.

Sy sluit af en sê dis vir haar belangrik om te weet dat ’n kind, net soos sy, ’n liefde vir die water ontwikkel.