September 16, 2021

Unieke handgemaakte messe

Andries vertel dit het hom ses jaar geneem voordat hy sy messe met versamelaarsmesse kon vergelyk.

Unieke handgemaakte messe

Unieke handgemaakte messe

Andries Botes (30), elektrisiën, het ses jaar geneem om homself te leer om die perfekte, unieke handgemaakte messe uit kronkelvere, kabels en moersleutels te maak.

Andries is getroud met Carla Botes en die paartjie het ’n pragtige seuntjie wat een van die dae een jaar oud word.

“Ek werk al vir 12 jaar lank as ’n elektrisiën en is mede-eienaar van AB Elektries. My passie vir messe maak het begin toe ek twee Cold-versamelaarsmesse teen n winskoop gekoop het en eers later besef het wat hulle eintlik werd is. Ek het besef mooi en goeie gehalte messe is verskriklik duur en het besluit om as n stokperdjie te probeer om messe te maak.”

Andries vertel dit het hom ses jaar geneem voordat hy sy messe met versamelaarsmesse kon vergelyk.

“Dit het my stokperdjie geword en alhoewel ek verkies om dit net as ’n stokperdjie te hou, het ek al hier en daar messe verkoop. My tyd is egter nou meer beperk na die geboorte van my seun.”

Hy vertel ook die proses was een van probeer en tref en het baie uithouvermoë geverg.

“Ek het myself geleer en die internet was nie tot veel hulp nie. Die gereedskap wat ek gebruik, soos byvoorbeeld die ‘forge’ en gedeeltes van die ‘belt sander’ het ek self gemaak omdat dit baie duur is. Ek maak baie verskillende messe soos kukri, kambrit, knipmesse, slagmesse en so aan. Ek geniet dit ook om my eie inisiatief te neem en self messe te ontwerp en te maak. Ek het ‘n mes vir my eie troue gemaak om die koek mee te sny en ook nog een opgeveil wat gehelp betaal het aan my wittebrood.”

Die moeilikste mes wat hy nog ooit gemaak het, was ’n Damascus, wat hy uit kabel gemaak het.

“Ek het dit uit kabel gemaak. Ek het vreeslik gesukkel om die ‘strands’ te ‘forge weld’. Die kabel word in stukkies opgesny, dan sweis jy dit aan mekaar vas, dan maak jy dit warm sodat jy dit kan ‘geforge weld’. Dis ‘n lang en uitmergelende proses.”

Sy gunstelingmes wat hy al gemaak het, is ’n Spanish Navaja, ’n knipmes wat 1.2 meter lank is.

“Messe van koolstofstaal maak ek uit bladvere, koeëllaers, ‘truck coil springs’, kabels en moersleutels. Vir die vlekvrye staal messe gebruik ek ‘uberlohm’, N690, N390. Dan gebruik ek ook Sandvik 14C28N en 12C27 Ek gebruik verskillende materiale om die hewwe te maak soos verskeie ‘burls’, takbokhorings en olienhout.”

“My raad aan ‘n amateur is om te onthou dit verg baie uithouvermoë. Wees geduldig. Maak seker jou ‘heat-treat’ is reg, want dis baie belangrik, dit maak jou mes sterk en hard.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *