September 19, 2021

Waterlek voor Mobifix ná byna ‘n jaar nog nie herstel nie

“Hulle het vir my gesê hulle is dadelik op pad om die pyp te herstel. Dis nou nog nie gedoen nie.”

Waterlek voor Mobifix ná byna 'n jaar nog nie herstel nie

Waterlek voor Mobifix ná byna 'n jaar nog nie herstel nie

“Die waterlek hou ‘n reuse veiligheidsrisiko in vir ons kliënte, en dis ook ‘n gesondheidsrisiko, want dis vreeslik vuil. En dis nou al ‘n jaar later, maar Sol Plaatje-munisipaliteit het dit steeds nie kom regmaak nie!”

Ruan Stander van Mobifix in Dalhamweg 2A, Kimberley, sê hy is moedeloos ná hy byna ‘n jaar gelede ‘n lekkende pyp wat voor Mobifix ‘n reuse plas water veroorsaak, aangemeld het.

Mobifix het in November 2020 sy deure by dié adres oopgemaak en sedertdien is dié lekkende pyp ‘n probleem.

Stander sê hy het die munisipaliteit 11 keer in die afgelope jaar probeer bel, maar sy oproep word nooit beantwoord nie. “Ek het op 6 Augustus na hulle toe gery om die probleem aan te meld. Ek moes dit op ‘n stukkie papier neerskryf en hulle het vir my gesê hulle is dadelik op pad om die pyp te herstel. Dis nou nog nie gedoen nie.”

Bo en behalwe die feit dat die lekkende pyp ‘n gesondheids- én veiligheidsrisiko vir Stander, sy werknemers en sy kliënte inhou, lyk dit ook vreeslik onnet en vuil.

“Ons het ook al gevra of ons dit self kan herstel, maar die antwoord was nee. Ons mag glad nie self enigiets wat aan Sol Plaatje-munisipaliteit behoort, herstel nie. Ek is raadop.”

FiND iT het navraag gedoen by Sello Matsie, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, maar het teen druktyd nog geen antwoord ontvang nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *