September 24, 2021

Die somer en jou tuin

“Enige iemand kan tuinmaak. Dit vat net geduld.”

Die somer en jou tuin

Die somer en jou tuin

Met die somer sterk op pad, gaan tuinentoesiaste weer hulle gunstelingtydverdryf aanpak om hulle tuine pragmooi te laat lyk. As jy nie seker is waar om te begin nie, gee Roaan Fourie ’n bietjie raad oor wat om in die Noord-Kaapse hitte te plant.  

‘Wat sade betref, kan jy kyk na wat tans by kwekerye op die rakke is. Dit is die sade waarvan die tyd reg is om nou te plant. Vetplante kan regdeur die jaar geplant word, maar neem kennis dat vetplante kan sneuwel onder erge ryp.” 

Plante en blomme wat jy nou kan plant:

  • Kliprose (Cistus purpureus)
  • Lantanas
  • Kosmos
  • Goudsblomme (Calendula officinalis)
  • Geraniums (Pelargonium x hortorum)
  • Salie
  • Laventel
  • Sedum (deel van die Crassulaceae-familie) en nog vele ander. 

“Die belangrikste is om eers navorsing te doen oor watter plante ideaal sal werk in jou omgewing. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid grasse wat jy kan plant om jou tuin meer karakter en tekstuur te gee. Grasse doen wonders in rotstuine waar daar meesal vetplante gebruik word.

Die Noord-Kaap is maar woestynwêreld, met erge hittegolwe en watertekort. Dit is dus belangrik om te kyk na plante wat nie te veel water nodig het nie en wat die hitte kan weerstaan. Wat gewoonlik eerste by mens opkom, is vetplante.  Hulle is bitter min moeite en hulle sal nie vir jou “kwaad” wees wanneer jy een week vergeet het om vir hulle water te gee nie. Wat ook baie kan help vir jou plante, is om nie die blare en takkies wat in jou beddings lê weg te hark nie. Los dit daar. Dit bied beide beskerming teen die erge son deur die grond vir langer klam te hou en dit is ook goeie voeding vir jou plante. As vetplante nie vir jou is nie, kyk na die Mediterreense plante wat baie son nodig het en die hitte weerstaan.”

“Die grond is net so belangrik soos die plante in jou tuin en kort dieselfde hoeveelheid aandag. Grond kan in drie hoofgroepe geklassifiseer word, naamlik sand, klei en leemgrond, waarvan leemgrond ideaal is. Kleigrond is propvol minerale, maar kan dit nie vrystel vir jou plante nie en het ook minimale dreinering. Sand het geen voedingswaarde vir jou plante nie en dreineer te vinnig. Onthou dat jou grond nooit genoeg kompos kan hê nie. Wanneer jy iets plant, moenie die plant dieper plant as wat die sak of pot is waarin dit gekom het nie. Die gat kan jy bietjie dieper grawe om spasie te maak vir so ‘n paar handevol kompos en dan natuurlik so ‘n handvol beenmeel. Onthou dan ook om jou plante elke twee tot drie weke te voed, met plantvoeding wat jy by enige kwekery kan kry. Jy meng dit net met jou water en giet oor jou plante. Hou jou plante gereeld dop. Moenie te veel water gee nie, want dit kan veroorsaak dat die wortels begin vrot. Maak ook seker om die aanwysings te lees wat saam met die plante kom. Dit dui die grootte van die volwasse plant aan asook die hoeveelheid water en son wat die plant moet kry. Vrugte, groente en kruie moet ten minstens bedags vyf ure se oggendson kry. Maak gereeld die grond om jou plante los sodat die wortels nuwe voeding kan opneem.”

“Daar is tans baie gifstowwe op die mark, wat nie skadelik is vir jou plante nie, maar wat uitstekend werk om ontslae te raak van daardie onnodige plantluise, slakke en wurms. Maar hierdie gifstowwe is nie altyd ideaal vir ander plante soos, vrugte, groente, en kruie nie. Kruisement, laventel en wildeknoffel help om insekte soos miere en steekvlieë weg te hou van plante af. Fyngedrukte eierdoppe of self koeksoda rondom jou plante hou die slakke en wurms ver weg. Indien jy wel wil gebruik maak van die insekdoders, maak seker dat dit veilig is op jou eetbare plante, asook vir jou vierpotige kinders.

“Enigiemand kan tuinmaak. Dit vat net geduld. Ek het al vir baie van my vriende gesê, begin met iets maklik, soos ‘n woestynrosie, of ‘n spekboom. Iets wat nie baie moeite en aandag nodig het nie. Doen eers jou navorsing goed voordat jy halsoorkop in ‘n ding spring. Maak seker dat jou grond vrugbaar is. Moenie al die saadjies wat in ‘n pakkie is gelyk saai nie. Van hierdie pakkies kan tot en met 1 000 klein saadjies bevat. Kan jy jouself indink as al daardie saadjies moet ontkiem? Begin klein.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *