September 24, 2021

Koeke van elke kleur en geur

Soms word sy skepsels laat in die nag of oggendure gebak, maar hy sê hy bak nooit vir homself nie.

Koeke van elke kleur en geur

Koeke van elke kleur en geur

Henno van Tonder (47) se baksels sal jou soettand vir seker bevredig. Hierdie man is talentvol op meer as een gebied. Hy is die eienaar van ’n trou-venue, ’n voltydse eiendomsagent en hy bak die kreatiefste koeke en kolwyntjies in sy vrye tyd.

Henno vertel hy is oorspronklik van Christiana, maar woon nou al sewe jaar in die Kimberley-omgewing. Hy het ook vier hondekinders.

“Ek het in 2000 gekwalifiseer as ’n professionele sjef. Bak was deel van my opleiding, maar ek het my nie regtig daarop toegespits nie, aangesien ek restaurante besit het en meer op kos gekonsentreer het. Ek het weer met die eerste ‘lockdown’ begin bak.”

Henno sê hy moes self so ‘n bietjie leer om sy styl aan te pas, aangesien alles so vinnig verander.

“Ek het ’n natuurlike aanvoeling vir enige vorm van kos en die styl het so verander in die laaste 20 jaar dat ek myself maar moes leer om die hedendaagse modes te kan lewer. Ek is ’n baie kreatiewe mens en geniet dit om iets te skep wat mooi en lekker lyk en proe. Noem dit maar my terapie.”

Soms word sy skeppings laat in die nag of vroeë oggend-ure gebak, maar hy sê hy bak nooit vir homself nie.

“Meestal word 90% van die gebak in die nag en vroeë oggendure gedoen. Ek sal nie vir myself iets bak nie; ek het nie regtig ’n soettand nie.”

Henno het ook al vele interessante dinge in sy lewe gesien.

“Ek het al redelik baie in my lewe gedoen en het ’n wye belangstellingsveld. Ek het rugby gespeel vir Griekwas vir vier jaar en toe vir Pukke en Luiperds vir twee jaar gespeel. Ek het restaurante besit en ook ’n vulstasie. Ek geniet mense en hul dinge, maar is mal oor diere.

“Ek rig rugby af by Hoërskool Diamantveld. Ek is mal oor musiek, kuns en hou daarvan om te verf wanneer die tyd dit toelaat. Ek het al genoeg gedigte geskryf om ’n bundel uit te gee, maar daai is die vensters na my siel en ek hou maar vir eers die gordyne toe.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *