September 20, 2021

‘Déjà vu-oomblik’ toe tweede baba in NICU opgeneem word

'Déjà vu-oomblik' toe tweede baba in NICU opgeneem word

'Déjà vu-oomblik' toe tweede baba in NICU opgeneem word

Rejeanne Pienaar van Bloemfontein vertel van die déjà vu-oomblik toe haar dogtertjie Chané gebore is en daar net na geboorte met haar na die NICU gejaag is. Haar seuntjie LJ is in 2019 oorlede na hy ook ’n rukkie in die NICU moes deurbring.

Vandag is Chané ’n gesonde baba en Rejeanne voel dis belangrik om ander mammas met babatjies wat prematuur gebore is, met haar verhaal te help om deur die ergste te kom.

Rejeanne en Wayne se babaseuntjie is op 30 Mei 2019 op 28 weke gebore. “Ons het aanvanklik beplan om my keisersnee op 23 weke te laat doen, omdat LJ op 30 weke opgehou groei het,” vertel Rejeanne. “Ons sou op 28 weke begin het om kortisoon te spuit om sy longe te versterk, maar toe ek op 30 Mei ingaan dokter toe en ek hom vertel dat ek LJ nie voel beweeg nie, het die dokter toetse gedoen en vasgestel dat LJ se ‘vloei nie reg is nie.’ Ek is dadelik huis toe om te begin pak vir my noodkeiser. LJ is daardie aand om 18:40 gebore.

Rejeanne vertel hoe LJ op die oog af sterk voorgekom het. “Hy was ’n woelige mannetjie, so perfek geskape uit God se groot Hand. Alles het goed gegaan. Sondag 2 Junie sê die pediater vir ons dit gaan nie goed met hom nie en dat ons moet gaan groet. Ons was net betyds om vir die familie te sê om te gaan groet. LJ is so vinnig en onverwags uit ons lewens geruk. Geen ouer moet ooit die seer ervaar om hulle kind aan die dood af te staan nie.”

Rejeanne vertel hoe ’n bitter moeilike tyd dit vir haar en Wayne was. “Nie een van ons het LJ se dood goed hanteer nie. Ons het ook gesukkel om mekaar te ondersteun; ons altwee het gerou. Ons het mekaar gelukkig nooit verwyt nie en ons huwelik is nou sterker as ooit vantevore.”

In Januarie 2020 het die paartjie ontdek dat hulle met hul reënboogbaba swanger is. “Ons dogtertjie was beplan, ons het gevoel dat ons soveel liefde het om vir ’n baba te gee.”

Rejeanne sê dit was vir haar aanvanklik moeilik om te aanvaar dat sy ’n dogtertjiemamma sou wees, maar dat sy na hulle alles in die spaarkamer na pienk verander het, beter gevoel het.

Sy vertel dat sy ’n moeilike swangerskap gehad het met haar dogtertjie en haarself ook daagliks met Clexane, ’n bloedverdunner, moes inspuit om te voorkom dat dieselfde met klein Chané gebeur. “Met LJ het ek nooit oggendnaarheid, sooibrand, geswelde voete of iets gehad nie. En hier kom daai meisiekind en gee my elke liewe simptoom in die boek!”

Klein Chané is op 17 September 2020 met “hydrops fetalis” ’n toestand waartydens groot hoeveelheide vloeistof in sekere organe en weefsel van ’n babatjie opbou, gebore. Chané het ‘n 10% kans op oorlewing gehad.

“Dit het gevoel soos déjà vu, hier gaan ons alweer. Die pediater het vir ons kom sê dit gaan nie goed met ons dogtertjie nie. So asof sy ons op die ergste wou voorberei. Maar ek het net ’n gevoel in my hart gehad hierdie meisie gaan baklei om te lewe. Ek het geweet sy gaan hierdie siekte wen.”

Rejeanne sê sy is vandag baie dankbaar vir die uitsonderlike personeel by Netcare Pelonomi wat haar die vyf weke wat Chané na haar geboorte in die NICU deurgebring het, ondersteun het. “Daardie mense is goud werd. Hulle het ons selfs herken en geweet hoe ons smag daarna om ons baba huis toe te neem.”

Vandag word Rejeanne en Wayne se klein Chané al byna een jaar oud en Rejeanne beskryf haar as “die vriendelikste baba”.

Rejeanne se boodskap aan ander mammas met babatjies wat in die NICU opgeneem word:

“Daar is nie ’n sterker vrou as JY nie. Al voel dit nie vir jou so nie, al sê baie mense dit vir jou en jy glo dit nie, byt net vas. Jy gaan nog terugkyk en besef jy was sterk! Daar is hoop, daar is soveel gebede en liefde vir jou klein wonderwerkbaba. Weet net, jy is nie alleen nie en jy sal nooit alleen daardeur gaan nie. Staan op, trek aan, gaan sit langs jou babatjie en weet, jy is een dag nader aan huis toe gaan.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *