September 16, 2021

‘All you need is love… and gin!’

Bloemfontein Online Co. gesels met Elani Pretorius (36) oor KolleGin wat sy saam met haar twee vriendinne, Annel Oosthuizen (40) en Elizma Maritz (37) begin het toe hulle by ‘n Worthy Woman-konferensie die idee gekry het om ‘n craft gin wat kollageen bevat, te ontwerp.

Elani is ‘n fotograaf, Annel ‘n wiskunde-juffrou en predikantsvrou en Elizma ‘n voormalige gr. 1-juffrou en tuisteskepper.

“Elizma en Annel het by die konferensie die idee gekry en Elizma het my genader en gevra of ek die ‘brand’ en ‘design’ kan doen en so het ons aan KolleGin gekom en die besigheid begin. Ons is al drie mede-eienaars en werk wonderlik as ‘n span saam.”

Elani vertel hulle drie het baie goeie vriendinne geraak en hulle ondersteun mekaar daagliks in hul besigheid en ook hul persoonlike lewens. “Ons is regtig ‘n ongelooflike span en die een kan nie sonder die ander nie.”

Dié drie vriendinne maak boetiekgin, waarvan KolleGin se Rooibos goud by die internasionale Michelangelo Spirits Awards gewen het.

Elani vertel KolleGin se topverkoper is die nie-alkoholiese gin wat kollageen bevat. Hulle verkoop dan ook kollageenpoeier, geskenke en het ook ‘n Wellness-reeks met organiese essensiële olies en badprodukte. “Alles wat ‘n vrou nodig het om haarself te bederf!”

Elani sê sy is ook besonder trots op hulle nuutste produk, ‘n eerste in Suid-Afrika. Dis Suikervrye Vonkel Kollageen Water. Dit bevat jou daaglikse dosis van 11 g kollageen.

Elani vertel sy, Elizma en Annel het soveel geleer op dié opwindende reis om KolleGin tot hier te kon bring.

“Annel is prakties. Sy is in beheer van al die finansies, verkope en groothandel. Ons spot haar altyd en sê sy is ons ‘hoofmeisie’, sy is immers regtig oud-hoofmeisie.”

Elizma is baie kreatief en kan enigiets laat mooi lyk. Sy is in beheer van alle verkope, voorraad, die aanlynwinkel en funksies. Gewoonlik kan ek ‘n idee voor haar neersit en sy sal ‘n plan kry hoe om dit uit te voer!”

Elani is in beheer van alle ontwerpe, produkontwikkeling, produkontwerpe en sosiale media, “brand ambassadors” en teken die illustrasies van KolleGin-karakters.

Dié vriendinne en entrepreneurs het tydens die streng inperking in Suid-Afrika besluit om op die “silwer randjie” te fokus en Elani vertel hoe hulle dié tyd gebruik het om hul kliënte te vertel van KolleGin se nie-alkoholiese gin, wat suikervry is en soos die “real thing” proe. “KolleGin het werksgeleenthede geskep en sekerheid in tye van onsekerheid gevestig.”

Oor wat hulle grootste struikelblok behels, vertel Elani dis om te leer hoe om balans en geduld te hê in alles wat hulle aanpak. “Ons al drie is getroud, is mammas, het ook ander besighede en dan natuurlik KolleGin, wat as ‘n stokperdjie begin het en ontwikkel het in ‘n besigheid met soveel potensiaal.”

Elani vertel van haar ander besigheid, Elizabeth J Photography, wat al tien jaar bestaan en wat sy op dieselfde tyd as KolleGin moet bestuur.

“Ek het Fine Arts studeer en toe begin belangstel in fotografie. Ek het eers net vir die lekker daarvan foto’s geneem en toe ontwikkel dit in Elizabeth J. Ek het baie lojale kliënte en ek sê altyd: ‘Hier is so baie fotograwe, mense boek my nie omdat ek die beste fotograaf is nie, maar vir die ‘experience’ en dat dit vir my so lekker is om mense gemaklik te laat voel en die mooi in hulself te ontdek.”

Elani vertel dat as sy ander vroue kan motiveer om ook hul eie besigheid te begin, haar raad sou wees:

“Doen jou huiswerk, vra vir hulp, werk hard en veral aan die begin moet mens alles self doen. Moenie jou vergelyk met ander nie, vind jou uniekheid. Alles loop nie altyd glad nie, maar hou net aan en sien dit ook as ‘n leerskool. Hanteer ander met geduld en respek. Die belangrikste is om op jou knieë te bly en op God te vertrou. En onthou om dit te geniet! “

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *