September 19, 2021

Blinde vrou van haar besittings beroof: ‘Ek het geskree om hulp’

De Kock vertel sy was by ‘n oogkundige wat haar nou sal help om ‘n verslag te skryf oor haar bril en monoskoop wat sy verloor het, omdat sy nie nou die geld het om dit te vervang nie.

Blinde vrou van haar besittings beroof: 'Ek het geskree om hulp'(Foto: Caria van der Merwe)

Blinde vrou van haar besittings beroof: 'Ek het geskree om hulp'(Foto: Caria van der Merwe)

KIMBERLEY. – Die 62-jarige Carol de Kock vertel hartseer hoe sy nou sonder haar bril, haar monoskoop en haar selfoon oor die weg moet kom ná sy Maandag deur twee mans beroof is.

De Kock was op pad huis toe ná sy ‘n rekening by Telkom gaan betaal het en by Pick ‘n Pay hulle nodige inkopies gedoen het.

“My skouersak was onder my arm vasgeknyp omdat ek weet hulle probeer my beroof,” vertel sy. “Ek het net skielik gesien hier stop ‘n blink motor langs my en hulle ruk my pakkies uit my hande uit. Ek het twee keer opgestaan ná die man my gestamp het dat ek op die grond neerval. Maar toe ek my weer kom kry, het hy die motordeur toegeklap en is hulle daar weg.”

De Kock is gedeeltelik blind en kan net ongeveer 1 m voor haar sien. “Ek het geskree vir hulp en die man voor wie se huis die insident plaasgevind het, het uitgekom om te hoor wat gaan aan, maar hy het ook niks gesien nie.”

De Kock sê ‘n man wat verbygery het, het ‘n deel gesien van wat gebeur het en het die motor agternagesit.

“Hy het gesê dit was ‘n silwer Polo. Ons het ‘n saak by die polisie gaan open.”

De Kock vertel sy was by ‘n oogkundige wat haar nou sal help om ‘n verslag te skryf oor haar bril en monoskoop wat sy verloor het, omdat sy nie nou die geld het om dit te vervang nie.

“Ek weet nie wat ek gaan doen nie. Ek het nie geld nie. Ek moet nou R70 betaal en twee ID-foto’s in die hande kry om net ‘n tydelike ID te kry. Ek weet nie wat ek gaan doen nie. Wat gaan van my word?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *