September 28, 2021

‘Springclean’ jou grimeersakkie saam met Sharlien

'Springclean' jou grimeersakkie saam met Sharlien

'Springclean' jou grimeersakkie saam met Sharlien

Sharlien Nel is ‘n gekwalifiseerde grimeerkunstenaar en voorkomskonsultant wat al sedert 2009 in die mooimaakbedryf is. As trotse eienaar van die skoonheid- en haarsalon, Posh Lab, geleë in General Beyersstraat, Bloemfontein, deel sy graag vyf wenke oor hoe om jou grimeersakkie ‘n bietjie te springclean.

Stap 1: Gooi uit

Alles wat oud is, hard is, gebreek is en verval het, moet uit! En ja, Susan, ongelukkig jou gunsteling-oogskadu wat jy al moet loskrap met die agterkant van jou tweezers, daai een moet ook gaan.

Stap 2: Vervang ou kwassies

As jou oogskadu oral op jou gesig beland, behalwe op jou ooglede, is dit dalk nou ‘n goeie tyd om al die kwassies te vervang waarvan die haartjies wilder staan as ‘n 4-jarige dogtertjie se kuif na ‘n heerlike middagslapie.

Kwaliteit-grimeerkwassies gaan definitief vir jou baie frustrasie en tyd spaar tydens jou oggend-mooimaaksessie, en ook, dis Covid-19 julle, dis veiliger om dalk nie meer daai vingers te gebruik nie.

Stap 3: Ken jou kleure

Voor jy weer jou blou Trio Eyeshadow-stelletjie koop, is dit dalk veiliger (en goedkoper) om eers mooi te weet watter kleure jou veltoon die beste komplimenteer.

Die bekendste terme waarvan jy dalk al gehoor het, is koel kleure en warm kleure.

Die regte kleur blosser kan letterlik ‘n paar jaar van jou gesig afhaal. Klink dit nie net fantasties nie?

Stap 4: Matt is beter as blink

As jou man se naam Johan is, moet asseblief nie vir hom sê jou grimeerkunstenaar het gesê jy moet hom los vir “Matt” nie… Ek verwys hier na die refleksie van kleure.

Blink kleure is ideaal om te gebruik as jy ‘n sekere area wil beklemtoon, maar is nie geskik vir die hele oog-area nie. Mat kleure aan die ander kant, vertoon sagter en is beslis meer tydloos.

Stap 5: Kwaliteit bo kwantiteit

Die gesegde: “Goedkoop koop is duur koop”, kan nie meer waar wees as dit by grimering kom nie.

O, yes, daar is sekere produkte wat buitensporig en onnodig duur is, daarmee stem ek saam, maar die volgende drie items is onontbeerlik:

* Onderlaag – Wat die hele dag hou, want so spaar jy ook geld.

* Maskara – Jy wil nie so moeg lyk soos wat jy voel nie.

* Lipstiffie – Veral oor die gesigmaskers wat maak dat die lipstiffie meer op ons wange en ken beland as op ons lippe.

‘n Springclean-sessie is baie meer as om dit te sien as net elke keer “oor begin”, dis ‘n geleentheid om die verlede agter te los en uit te sien na dit wat volg.

Dalk is daar nog so ‘n paar areas wat jy graag wil skoonmaak sodat jy kan plek maak vir die nuwe wat gaan volg.

Besoek gerus Posh Lab se Facebook-blad hier en gaan stem vir watter een van die onderstaande onderwerpe jy volgende wil aanpak tydens jou “springclean”-reistog.

Wie weet, ons mag jou dalk net nóg ‘n nuwe trick of 2 leer:

  1. Meer oor grimering
  2. Voorkoms/Klerekaswenke
  3. Velsorgwenke

Kontak ons gerus vir enige navrae by: www.poshlab.co.za – 051 444 0833 – [email protected]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *