September 28, 2021

Pa vertel van ‘nagmerrie’ toe seun (11) in hospitaal beland met Covid-19

Binne ‘n tydperk van ‘n paar dae het Gerhard se toestand so verswak dat hy in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal opgeneem is.

Die 11-jarige Gerhard Greyling sterk tans by die huis aan na hy weens ernstige Covid-19-komplikasies in die hospitaal in Bloemfontein beland het.

Willie Greyling, Gerhard se pa, vertel van die “nagmerrie” waarin die gesin hul bevind het na sy seun met die uiters seldsame pediatriese inflammatoriese multisisteem-sindroom gediagnoseer is.

“Gerhard en sy sussie, Lienke, het oor die Julie-vakansie by hul oupa, Johan, gekuier toe hy my die een dag bel en sê hy voel sleg en dat hy maar ’n Covid-19-toets sal laat doen. Ek het dadelik gery om seker te maak dat hy alles het wat hy nodig het en om die kinders te gaan haal. Ons was in dié stadium nog nie seker of Johan Covid-19 gehad het nie, maar ek en die kinders het toe in elk geval vir 10 dae isoleer.”

Willie vertel dat Gerhard waarskynlik in die tyd wat hy by sy oupa gekuier het, aangesteek het. Gerhard was egter asimptomaties en het geen simptome van die virussiekte getoon nie.

Willie se pa is op 26 Julie in die hospitaal opgeneem en is op 30 Julie weens Covid-19-komplikasies oorlede.

Willie sê die daaropvolgende week was vir hulle maar baie deurmekaar.

Laerskool Jim Fouché, die skool waar Gerhard skoolgaan, het Willie die volgende Woensdag gebel en gesê Gerhard voel siek en dat sy maag pyn.

“Ons het hom dokter toe geneem en die dokter kon niks fout kry nie. Dit was toe nog te vroeg om hom vir Covid-19 te laat toets en ons het toe maar net vir eers sy koors beheer. Die Saterdag het hy gekla van vreeslike maagpyn en my vrou, Martiena, het hom na die ongevalle-eenheid geneem. Die skanderings kon weereens niks fout kry nie.”

Binne ‘n tydperk van ‘n paar dae het Gerhard se toestand so verswak dat hy in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal opgeneem is.

“Sy uitslae het die Dinsdagoggend gekom. Hy het Covid-19-teenliggaampies in sy liggaam gehad.”

Willie vertel van die rare verskynsel waar die teenliggaampies in Gerhard se liggaam ‘n ooraktiwiteit veroorsaak het en dit sy liggaam begin aanval het.

Gerhard se toestand het geleidelik verbeter tot hy Sondag ontslaan is.

Willie sê dis vir hom baie belangrik dat mense besef dié virussiekte is nie ‘n grap nie. “Ons almal het ‘n verantwoordelikheid om teen die virus ingeënt te word,” sê Willie, wat self ingeënt is. “Daar is genoeg mediese navorsing om te vertrou.”

Willie skryf op sy Facebook-blad:

“My boodskap aan almal wat hier lees:

Dink aan ander en los jou Google-intelligensie in die asblik (waar dit hoort).

Ek wil letterlik kots as ek hoor – “ek weet God sal my teen Covid beskerm” – jou DWAAS, God gee aan jou vrye keuse. Jy bly steeds in beheer van jou liggaam.

Kinders word nie noodwendig siek nie, maar daar diep in die donker sluimer ‘n draak wat groot verwoesting veroorsaak.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *