September 16, 2021

‘Dis belangrik om NOOIT op te gee nie’

‘Dis belangrik om NOOIT op te gee nie’

‘Dis belangrik om NOOIT op te gee nie’

“Die belangrikste is om nooit op te gee op ‘n droom of ‘n ‘goal’ wat jy vir jouself stel nie. En te glo dat jy tot enigiets in staat is as jy eers besluit om dit te doen.”

So vertel die 23-jarige Sammy van der Walt na sy op 9 April vanjaar in ’n ernstige motorongeluk betrokke was en drie van haar rugwerwels en haar pelvis gekraak het. Na die ongeluk kon sy nie sonder krukke of ’n harnas regop staan of loop nie.

Sammy het na die ongeluk besluit sy sal haar nie deur haar omstandighede laat onderkry nie en dat sy vanjaar nog aan ’n bikinikompetisie wil deelneem.

“Ons was in Kaapstad toe die ongeluk plaasgevind het. My boetie, TJ van der Walt, het aan die SA-atletiekkampioenskap deelgeneem en ek was die aand op pad huis toe na ons by ’n restaurant was,” vertel Sammy. “Een van my boetie se vriende, Arno Moolman, was saam met my in die motor. ’n Motor het voor ons ingedraai en ons van voor getref. Ek het eers in die ambulans wakkergeword.”

Sammy sê sy is na die ongeluk onmiddellik vir skanderings gestuur en daar is met haar na die ongevalle-afdeling van die hospitaal gejaag.

“Drie van my rugwerwels was gekraak en daar was ook drie frakture in my pelvis. Ek kon glad nie sonder ’n stut regop sit nie en ek was vir ses weke glad nie mobiel nie.”

Sammy sê dit was in dié tyd wat sy besluit het om vir die eerste maal in haar lewe aan ’n bikinikompetisie deel te neem. “Ek het met my afrigter, Nicole Daamen, gepraat en vir haar gesê dis wat ek graag wil doen. Sy het dadelik ingestem en gesê ons het nog genoeg tyd om voor te berei. Ek hou van ‘n uitdaging. Ek het gedink dis belangrik om, ten spyte van my omstandighede, te besef daar is niks wat jou kan keer as jy eers besluit het om iets te doen nie.”

Sammy het agt weke na die ongeluk stelselmatig begin oefen en kon uiteindelik Saterdag aan die IFBB-kompetisie in Bloemfontein deelneem.

Sammy sê sy beplan ook om in November aan die QQF-SA Championship PRO AM deel te neem en berei nou al daarvoor voor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *