September 20, 2021

Koshuis steier onder Covid en vele probleme

“Ons koshuis was wel so drie jaar gelede opgradeer en met die nodige toerusting en gereedskap ensovoorts, voorsien. Tans eet die seuns en dogters saam en dit maak sosiale afstande baie moeilik.”

Koshuis steier onder Covid en vele probleme

Koshuis steier onder Covid en vele probleme

By ‘n Noord-Kaapse skoolkoshuis neuk dit glo om die Covid-19 in toom te hou.

So voel Kosie Nero, voorsitter van Hoërskool Garies se beheerraad (SBL). Die skool is in die Kamiesberg-munisipaliteitsdistrik geleë, waar krag, maar veral water, ‘n groot struikelblok, te midde van die Covid-19-pandemie is.

Tans is hulle grootste kopseer egter sosiale afstande tussen seuns en dogters in die koshuis. Daar is ‘n personeeltekort by die seunskoshuis, daarom eet die seuns saam met die dogters by laasgenoemde se koshuis. Hy vertel met ’n seer hart:

“Ons koshuis was wel so drie jaar gelede opgradeer en van die nodige toerusting en gereedskap ensovoorts, voorsien. Tans eet die seuns en dogters saam en dit maak sosiale afstande baie moeilik.”

Volgens hom was daar meer as 20 positiewe gevalle by die koshuis die afgelope tyd. Die skool moes toe twee weke gelede toegemaak word weens die Covid-19-gevalle. Dit kan deels toegeskryf word aan die saam-etery.

Hulle word eintlik ondermyn deur die Noord-Kaapse departement van onderwys (NDVO) en koshuisbestuurspan, voel hy. Gesprekke met die matrone en koshuispersoneel loop ook op niks uit nie, vertel Nero.

Hy kla verder:

“Die personeel by die seunskoshuis was aanvanklik voltallig. Intussen het ‘n werker hier gesterf. Die matrone en van die ander lede het ook al afgetree. Die NDVO weier egter die afgelope jaar om hulle poste te vul.”

Die SBL versoek dus redelik dat permanente poste weer gevul moet word sodat die seunskoshuis normaal kan funksioneer. En die sosiale afstande en Covid-19 hokgeslaan kan word.

‘n Bekommerde ouer, van Hondeklipbaai, Carisa Soudens, het vertel dat hulle die skool al voorheen toegemaak het weens die probleme by die seunskoshuis, maar die (NDVO) kom nie met oplossings nie.

“Ons gaan die skool laat toemaak en ons kinders uit die skool haal en by ander skole inskryf. Dan kan Garies se leerders maar alleen hier skoolgaan. Die departement wil sy agterent aan ons afvee.”

Dit het intussen bekend geword dat die ouers Maandag ’n spesiale vergadering met senior beamptes van die distrikskantoor van onderwys gaan hou. Hier gaan “die poppe glo dans,” het ouers belowe.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die LUR van onderwys, het gesê dat slegs vier seuns en vier dogters hier Covid-19-positief getoets het.

“Koshuisleerders is daagliks met ander leerders in kontak. Dit kan dus nie met sekerheid gesê word nie dat hulle in die koshuis geïnfekteer was.”

Volgens Van der Merwe is die NDVO bewus van die personeeltekort by die seunskoshuis, daarom was kontrakte van algemene assistente tot Desember verleng. Hierna gaan ’n proses volg om kritiese poste te vul.

Intussen het Van der Merwe beklemtoon dat alle skole streng moet hou by die Covid-19-regulasies om die verspreiding van die virus te beveg. Dit sluit in isolasie- of kwarantynmaatreëls.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *