September 28, 2021

‘Die Here het my die gawe gegee om te skilder’

Bianca Bronkhorst (23), mamma van ‘n pragtige byna 1-jarige dogtertjie, vertel hoe sy haar besigheid, Uniquebeearts, vingeralleen op die been gebring het, hoeveel trots daar in haar werk lê en hoe sy vas glo dat haar besigheid nog op almal se lippe sal wees.

Uniquebeearts is in 2017 begin toe Bianca in die jaar na matriek besluit het dat sy nié haar oorspronklike plan om onderwys te studeer, gaan volg nie, maar eerder meubels gaan begin restoureer. “Ek het meubels ‘n bietjie anders restoureer en nie “chalk paint” gebruik wat oor die algemeen gebruik word nie. Ek wou alles uniek maak. En dis ook hoe ek op my besigheid se naam besluit het,” vertel sy.

“Ek het maar altyd geweet om meubels te restoureer, is nie wat Uniquebeearts is nie. Ek het ‘n geleentheid gekry om muurkuns te doen toe Checkers Act for Change my gevra het of ek ‘n ‘mural’ by Primêre Skool Thabaleng sal verf. Dit was my eerste ‘mural’. My pa, wat vandag nog ‘n groot rol speel in dit wat ek doen, het my gehelp om ‘grids’ te teken en my elke oggend daarheen geneem sodat ek die werk kon voltooi.”

Sy vertel hoe dié kunswerk haar laat besef het dat sy wil skilder. Sy onthou dat sy op skool by kunsonderwysers moes hoor dat sy nooit sal verf nie en dat sy nie goed genoeg daarin is nie. “Ek was van skooltyd af vasbeslote om eendag ‘n entrepreneur te raak. Ek wou nie vir ‘n baas werk nie en ek het aan my droom vasgeklou. Ek glo vas die Here het my die gawe gegee om te skilder om iets vir myself te kan bou.”

Ná Bianca die “mural” klaargemaak het, het Uniquebeearts stil geraak, maar op ‘n dag haal sy haar denimbaadjie uit haar kas. “Ek het van skooltyd af op my denims geverf. Die enigste uitdaging was dat die verf gewoonlik ná ‘n was afgekom het. Ek het toe met verskillende verwe begin eksperimenteer. Ek wou nie die ‘norm fabric paint’ gebruik het en dit so verkoop nie. Ek het gesoek vir ‘n goedkoper alternatief. Na ek my eie baadjie geverf het, het ek voor daai wasmasjien gestaan en gebid dat die verf nie afkom nie!”

Sy het haar baadjie verkoop en van daar het Bianca, met haar eie geheime formule, skilderye op baadjies begin doen en dit verkoop. Sy het al van haar kunswerke oorsee verkoop en selfs vir Angelique Gerber se tweeling pakkies geverf.

Bianca vertel haar eerste kliënt, tannie Frannie, wat nou nog gereeld by haar bestel, het haar destyds gemotiveer om aan te hou en ondersteun haar nog altyd. Haar ouers het haar ook hier en daar finansieel ondersteun om kwaste of verf te koop.

Bianca vertel die grootste uitdaging wat sy as entrepreneur moet hanteer, is om kliënte tevrede en gelukkig te hou. ‘n Tevrede en gelukkige kliënt laat ‘n mens sommer lus voel om aan te hou en deur te druk.

Omdat Bianca van die huis af werk, tussendeur na haar dogtertjie kyk en verloof is, is dit ‘n uitdaging om alles te balanseer. “Ek voel soms asof ek nie vir alles tyd kry nie, maar dan is daar altyd iets wat my vorentoe druk. Dalk is dit die Here wat my weer motiveer deur ‘n kliënt wat na my toe terugkom en sê ek doen ‘n fantastiese werk.”

Bianca vertel hoe haar verloofde, Markus van Vuuren, haar ondersteun. “Ek besef ek het al ‘n ongelooflike pad gestap, vol teleurstellings en seer, maar ek het die liefde van my lewe ontmoet. Hy is die een wat my motiveer en aanspoor om vir goed in te skryf. Hy en Sussie hou my aan die gang!”

“As dinge skeefloop, dan onthou ek net heeltyd wat die Here my belowe het. Dis net met genade van Bo dat ek my besigheid op die been kon bring!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *