Thabiso Montse gesels oor die DAMO Foundation en die manier waarop hy kuns, musiek en sport gebruik om deur middel van musiekterapie die jeug te help genees van pyn.
Thabiso, wat oorspronklik van Johannesburg is, vertel toe hy na Bloemfontein verhuis het, het hy met Duna Mokgoto en Bra Eddie gesels oor die moontlikheid om ’n jeugontwikkelingsentrum in Bloemfontein te begin. Die DAMA Foundation is amptelik in 2018 in Johannesburg begin en het in 2019 in Bloemfontein begin voortbestaan.
Thabiso is ’n musiekterapeut en stel musiekterapie vir Bloemfontein-inwoners beskikbaar deur sy sentrum.
Hy vertel gedurende die Covid-19-pandemie was dit vir hom moeilik om die jeugsentrum aan die gang te hou en hy het begin om geld in te samel. “As kunstenaars het die pandemie ons heel eerste getref. Ek het besef dis nie meer moontlik vir ons om oorsee te reis of op te tree nie. Toe dit so moeilik was, het ek besluit om ’n plan te maak. Ek het geld belê in ’n yskas en toe dit weer moontlik geraak het vir ons, het ons begin om water te verkoop om geld in te samel. Vandag kan ek trots sê dat ek twee mense het wat vir my werk en my op tydelike basis help om die Foundation aan die gang te hou.”
Thabiso vertel die grootste rede agter sy besluit om die DAMO Foundation te begin, was die feit dat hy vir mense wil wys dat jy deur middel van musiekterapie jou siel as mens kan ontdek. “Musiekterapie is terapie waartydens musikale vibrasies se frekwensie gebruik word om verskeie elemente van jouself te genees,” vertel hy.
’n Udu-drom van Nigerië is onder andere een van die musiekinstrumente wat hy tydens sy terapiesessies gebruik. “Die drom is deur Igbo-vroue gebruik. Tydens verskeie seremonies wat in die stad gehou is, is die drom gespeel. Dis een van die kragtigste dromme wat daar is!”
Nog een van die instrumente wat Thabiso gebruik, is iets wat klink soos ’n padda. “Wanneer jy ’n padda buite hoor kwaak, is dit gewoonlik die teken van reën, van groenigheid, van oorvloed.”
Thabiso vertel ook van die Joab, ’n instrument wat die Khoisan gebruik het om diere te hipnotiseer en aan die slaap te maak net voor hulle die diere wou vang.
“Die sentrum is regtig net hier om mense te help om te genees, om te laat gaan, om die pyn wat in hulle is, weg te sing en weg te dans. Om op die tromme te speel en so daaraan uiting te gee.”



