Griekwa-afrigters kies hasepad

Deel hierdie storie / Share this story

Na slegs een jaar van amptelike rugby in die tuig het beide afrigters van Griekwas besluit om hulle rugbytoekoms elders te bevorder. 

Scott Mathie, hoofafrigter van Tafel Lager Griekwas, het na slegs een amptelike seisoen reeds aangedui dat hy oorsee wil gaan afrig. Alhoewel sy bestemming nog nie bevestig kan word nie, is sy werksvisum blykbaar die enigste struikelblok wat tussen die afrigter en ’n aanbod om in die VSA af te rig, staan.  

Albert van den Berg se heenkome na die Leeus is ’n uitgemaakte saak en hy behoort hom reeds na afloop van die Carling Cup by die span as nuwe voorspeler-afrigter aan te sluit. Die afrigter se aansien as voormalige Springbok was op die geleë tyd ’n aanwins vir Griekwa-rugby.

Dit wil voorkom of die Griekwa-pad wat deur die are van Kimberley vloei, nie altyd so maklik is vir afrigters nie en dat hulle nie sommer hier wortel skiet nie.

Hawies Fourie, afrigter van die 2015-seisoen, het na slegs een jaar gekies om eerder ’n universiteitspan af te rig. Peter Engledow, sy opvolger in 2016 – 2018, was tevrede om by ’n skool af te rig. Brent Janse van Rensburg was reeds halfpad deur die 2019 jaar oortuig om nie in Kimberley aan te bly nie. Scott Mathie het reeds in 2020 aangedui dat hy voelers uitsteek om elders af te rig. 

Na ’n duister begin en geen oorwinnings in die seisoen nie, kon hy daarin slaag om hierdie seisoen tot die semi-finaal van die Carling Cup te vorder. 

Dit is ’n uitgemaakte saak dat geen geld Mathie in Kimberley kan hou nie en enige afrigter wat sy heil in die VSA gaan soek, moet uiters desperaat wees. Die State word kwalik as ’n rugbyland beskou.   

Mathie is in 2019 die eer gebied om by Van Rensburg oor te neem. Vir meeste afrigters sou dit na ’n hospitaalpos gelyk het, maar Mathie het na ’n droewige 2019-seisoen sy voete gevind en soos sy voorganger tot in die Carling Cup semi-finaal deurgedring. Beide dié semi-finale word die naweek beslis.

Griekwas se soeke na ’n nuwe afrigter is blykbaar reeds afgehandel en die vermoede is sterk dat Pieter Bergh as die nuwe hoofafrigter van Griekwas aangestel sal word. Alhoewel die afrigter na die uittog van Engeldow in 2018 nie goed genoeg was nie, het die afrigter se vermoë met groot spanne tot so ’n mate in twee jaar verbeter dat hy nou gereed is vir hoër louere. 

Bergh het homself op die rugby-ashoop bevind na Engledow besluit het om slegs na drie jaar by Griekwas ’n ander heenkome te vind. Bergh het wel aansoek gedoen om Engledow se pos, maar Griekwas se bestuur was nie te vinde vir die jong man se potensiaal nie. Hy kon egter ’n pos by die Ixias van Bloemfontein  verseker.

Die span was uiters suksesvol in die 2021-Varsity Cup. Bergh het met oorgawe en slim spel die span tot oorwinning teen al die groot universiteite, o.a.  Shimlas, Maties en Tukkies, gelei. 

Aankondigings behoort na afloop van die semi-finale deur Griekwas gemaak te word.