PRETORIA.- ‘n Man, wie se naam weerhou word om sy suster se identiteit te beskerm, het aan die hof gesê dis onregverdig om hom tot lewenslange tronkstraf te vonnis. Hy het glo sy suster (14) verkrag, aangesien hy te skaam is om ‘n vrou te benader. Hy moet glo eers moed opbou deur alkohol te gebruik voordat hy seksuele omgang met ‘n vrou kan hê.
Volgens IOL het die aangeklaagde in die Limpopo-hoogeregshof gesê dat hy op die aand van die misdaad vergeet het dit is sy tienersuster wat hy besig was om te verkrag. Die man het in 2015 ook in die hof verskyn vir die verkragting van sy suster. Tydens sy verhoor het hy nog ‘n klag van verkragting van sy niggie teen hom gehad.
Die aangeklaagde het sewe jaar tronkstraf vir die verkragting van sy niggie gekry en is later daardie jaar lewenslank gevonnis vir die verkragting van sy suster.
Die man het teen sy vonnis geappeleer en sê hy het skuldig gepleit vir die verkragting van sy suster, maar hy verdien nie lewenslange tronkstraf nie.
Hy het ook aan die hof gevra om in gedagte te hou hy het sonder ‘n ma grootgeword en moes die skool op ‘n jong ouderdom verlaat weens finansiële uitdagings.
Die hof het egter sy appèl teengestaan en gesê hy is ‘n gevaar vir die vrouens in sy familie, asook vir die samelewing en hy verdien lewenslange tronkstraf.



