Madelein Rudman – sterk vrouens weet hoe om sensitief te wees

Deel hierdie storie / Share this story

Madelein Rudman (45) is ’n welbekende in die stad. MADS Properties Kimberley is al immers 10 jaar lank deel van Kimberley se eiendomslandskap.

Madelein het dié eiendomsagentskap op 1 April 2011 begin en sedertdien bied dié sakevrou geleenthede en inspirasie vir haar werknemers en die kliënte wat met haar te doen kry. “Ek geniet dit vreeslik om met mense te werk. Dit gee my dryfkrag.”

Sy hou ook daarvan om ander te help en het dadelik ingespring om finansieel te help toe daar dreigemente van plundering in Kimberley was.

“Om ons ondernemings te beskerm, is belangrik en ons moet saamwerk daaraan. Ek is so bly ek kon help om finansieel by te dra vir benodighede wat die beskermingsgroepe nodig gehad het.”

In ’n mans-gedomineerde wêreld, reken sy dit is makliker vir vroue in dié bedryf. “Ek weet hoe om kliënte te hanteer, hetsy dit ’n huurder, verhuurder, koper of verkoper is. Ek kan die situasie analiseer en dan die feite bymekaarkry, om ook as middelman op te tree. Aan die einde van die dag moet daar altyd ’n middeweg wees tussen partye, sodat almal gelukkig en tevrede is.”

Ook voel sy vrouens het meesal ’n sagter en meer sensitiewe aanslag. “Soms is dit moeilik vir kliënte om ‘n huis te laat gaan as dit ‘n huis is waarin hulle grootgeword het of hulle kinders gekry het. Om ‘n huis te verkoop, is ‘n emosionele saak. Dit kan ook baie traumaties wees. As mense skei of iemand is oorlede, dan maak dit die transaksie baie emosioneel. Mens moet sensitief wees en dit in ag neem. Vir jou is dit dalk ’n transaksie, maar vir die ander persoon is dit ’n lewensveranderende besluit of stap. Dit is nie altyd maklik nie.”

Vrouens en mans kyk na verskillende goed wanneer hulle ’n huis soek, vertel Madelein. “Vrouens is geneig om te kyk na hoe lyk die kombuis en die badkamers, waar mans weer meer gesteld is op die garage en die braai-area. Dis maar goed wat ons optel wanneer ons met kliënte werk.”

Haar eie huis is haar veilige plek. “Dis waar ek net myself is. Daar is geen voorgee nie. Dis net ek en my mense. Vir my is ‘n leefhuis belangrik. Waar almal met mekaar kan gesels en van die dag se dinge kan praat en mekaar kan help hoe om daaglikse uitdagings te hanteer.”

Haar seun, Heine, het ook nou by haar span aangesluit en volg in sy ma se voetspore. Haar dogter, McKayla, gaan volgende jaar hoërskool toe.

Madelein glo aan balans in die lewe. “My onderneming gee my vrye teuels en vryheid. My gesin, my twee kinders en my lewensmaat, Roelf, is vir my baie belangrik. Om tyd saam te spandeer, is kosbaar.”

Roelf sê: “Madelein inspireer my daagliks. Sy het Mads Properties met baie moed en min geld begin en opgebou oor die afgelope 10 jaar. Ek glo die gemeenskap ondersteun haar, want sy handhaaf ‘n gesonde balans tussen professionalisme en respek vir haar medemens.

“Madelein is n wonderlike ma vir haar kinders en sy hanteer my kinders met dieselfde liefde en respek. Sy is nie net my lewensmaat nie, maar ook my beste vriend. Familietyd is vir ons belangrik en ons het geleer om elke dag voluit te lewe.”