“Vra jy my regtig? Laat ek net weer lees?” Dit was Johandri Pieterse (28) se eerste woorde toe haar kêrel, Willie Myers, op sy knie tydens teikenskiet neersak en die ja-woord vra.
Baie meisies vermoed daar is ‘n slang in die gras wanneer hulle kêrels ‘n romantiese aand en ete beplan. Willie het uit die boks gedink en nie enige leidrade gelos nie. Die beroepsjagter het ‘n teiken met die woorde – sal jy met my trou? – opgestel en Johandri genooi om saam te gaan teiken skiet.
Die twee vertel Johandri, wat twee maande swanger is, was glad nie lus vir dié uitstappie nie. Met hulle aankoms op die skietbaan het Willie Johandri gevra om deur die teleskoop na die teiken te kyk.
Dit is toe sy haar oë op die groot vraag laat val. Sy kon haar oë nie glo nie en het dadelik omgedraai. Willie is toe al op sy knieë met die ring in sy hand.
“Ek het eers gedink dis ‘n poets of iets. Ek kon dit nie glo nie.”
Die twee, wat mekaar twee jaar gelede op Welkom ontmoet het, se verlowingsvideo het omtrent opslae op sosiale media gemaak.
“Ek wou iets oorspronklik doen. Ons altwee is baie lief vir die buitelewe, die plaas en vuurwapens. Dit het my eintlik na my idee gelei,” sê Willie



