‘n Tweede kans vir mooi wees

Deel hierdie storie / Share this story

Debbie Conradie, mamma van vier, vertel van haar passie om enigiets wat jy dalk sou wou weggooi, in iets ongeloofliks te omskep.

“Ek was vir meer as 25 jaar betrokke in die korporatiewe wêreld. In 2017 het ek werk van Vodacom na Cell C verander en vir vier maande mag ek weens ‘restrain of trade’ nie gewerk het nie. Ek is nie die stilsit tipe nie, en so het ek my hande begin besig hou in die tuin. Ek sou myself nooit beskou het as ‘n kranige tuinier nie, maar daar het alles begin. Ek het opeens verlief geraak op die gevoel van grond tussen my vingers. Ons het in daardie tydperk ook tweedehandse antieke meubels gekoop, reggemaak en dan weer verkoop. Almal wat ons eindprodukte sien, sê altyd: “Oe, dis mooi”. Van daar het ons op die naam ‘Oe dis mooi (ODM)’ besluit en ons Facebook-blad is begin.”

Debbie sê sy, haar man Dirk en hulle kinders maak definitief ‘n gedugte span. “Die kinders weet al Mamma en Pappa is altyd besig met ietsie.”

Debbie se hele lewe is ‘n prentjie.

“Ek is maar ‘n boeremeisie, het op Bothaville grootgeword. In die laerskool was ek in Loskuil-plaasskool en ek het in 1990 aan Hoërskool Bothaville gematrikuleer. Daarna is ek Bloemfontein toe om by CUT te studeer en ek’t daarna begin werk, getrou en kinders gekry.”

Debbie sê dis bloot deur genade van Bo wat hulle dié maand “My Shoppie” klaar kon bou.

“Ons is besig met finale afwerking en hoop om die naweek van 3-4 September oop te maak. Dit is op ons hoewe in Bainsvlei.”

“Een van my groot liefdes is om die tuin op te kikker en ou goed nuwe lewe te gee. Dis nie net vir ekstra inkomste nie, maar vir die liefde om weer nuwe lewe te sien ontwaak. Dis amper of die goeters ‘n tweede kans kry vir mooi wees. Die geheim van mooi én lekker tuin maak, is dat jy letterlik in enigiets kan plant. My voorkeur is vintage goeters.

“Ons ander passie is Vintage Automotive art. Dis baie uniek en elke projek is ‘n meesterstuk op sy eie.
Dis vir ons baie lekker om so veel as moontlik van die oorspronklike produk te gebruik en ‘n nuwe jassie aan te trek. Ons hoor gewoonlik wat is die kliënt se behoefte en werk dan daarvolgens.”