Die vyfjarige Lisa le Roux is voor die ouderdom van een jaar oud met serebrale verlamming gediagnoseer.
Dokters het vir haar ouers, Ambrencia en Gerhard le Roux, gesê dat sy niks vir haarself sal kan doen nie en dat sy heeltemal van hulle afhanklik sou wees.
“Die diagnose wat sy gekry het, was baie erg,” vertel Ambrencia. “Hulle het gesê sy sal niks vir haarself kan doen nie.”
“Dit was hartverskeurend. Ons wou so graag ‘n babatjie van ons eie hê. Ons het in 2015 swanger geword, maar het op 24 weke ons seuntjie Rènhard verloor. Toe in 2015 vind ons uit ons het weer ‘n babatjie op pad. Nooit het ons geweet ons gaan hoor dat sy ‘n siekte sal hê soos serebrale verlamming nie.”
Lisa het haar ouers én die dokters verras en kan nou al self sit en op die grond rondbeweeg. Haar ma vertel sy kan self eet en drink en sy speel ook baie mooi. “Sy kan tel, sing en praat. Sy is ook baie lief daarvoor om op YouTube na Blippi te kyk.”
“Sy kan net nie loop nie. Ons het in ‘n stadium na iets begin soek waarmee ons haar kan help om te loop. Dit het vir haar swaar begin raak en dis ook moeilik om haar oral rond te dra.”
Gerhard het op die Walking Braces afgekom en ons het verlede jaar ‘n bietjie navorsing daaroor begin doen. Ons het eers ‘n maatskappy in Suid-Afrika gekry wat die loopstutte vir ons kon kry, maar teen R65 000. Toe ons ‘n maatskappy oorsee gekontak het, het hulle vir ons gesê dat hulle dit vir ons kon kry teen R35 000, invoerkostes en aflewering ingesluit.”
“Ons is vol hoop dat dit Lisa sal kan help loop. Ons kan ongelukkig nie ‘n operasie vir Lisa oorweeg nie, omdat ons nie aan ‘n mediese fonds behoort nie en ons alles deur Kimberley-hospitaal doen.”
Ambrencia en Gerhard kon binne ‘n week die R35 000 insamel en het reeds die deposito vir die Walking Braces betaal.
“Al Lisa se terapie het nou weens Covid-19 die laaste twee jaar ‘n bietjie stilgestaan,” sê Ambrencia. “Sy is baie lief vir swem en balgooi. Ons speel maar met haar en hou haar besig sodat sy nie verswak in die tyd wat sy nie terapie kry nie.”
Vir ander mammas wat moontlik deur dieselfde gaan, sê Ambrencia:
“Dit is baie moeilik, veral as jy nie weet wat fout is nie. Maar maak seker jy baklei om ‘n antwoord te kry as jy dink en voel daar is fout.”



