December 7, 2021

Die barmhartige buurvrou

“Alles gaan nie net oor geld en wat jy kan gee nie, ons moet onsself op die spel plaas, omgee bemoedig en ten alle tye ‘n voorbeeld stel.”

Anne-Marié sê 'n mens moet altyd eerlik en opreg wees in jou lewe.

Anne-Marié sê 'n mens moet altyd eerlik en opreg wees in jou lewe. (Foto: Pizer)

“Die Here voorsien aan ons om te kan gee en gebruik ons om Sy werk op aarde voort te sit.” Dit is die woorde van Anna-Marié Pizer. Alhoewel Anna-Marié nie juis praat oor haar goeie dade wat sy vir minderbevoorregtes in die gemeenskap doen nie, getuig haar buurmense daarvan. Anna-Marié voorsien al vir die afgelope drie jaar elke aand ‘n bord kos aan haar buurman nadat sy vrou oorlede is. Sy en haar man het ook gehelp met die buurman se vrou se begrafnis, aangesien dit finansieel moeilik was vir hulle.

Anne-Marié vertel haar goeie dade het al van jongs af begin. Sy het gereeld groot projekte aangepak vir instansies soos ouetehuise, kinderhuise, Jonder en Sally Aucamp. “Op die oomblik is ek besig met mense in nood rondom en in ons dorp.”

Anne-Marié is ‘n baie besige vrou en niks kan haar onderkry nie. Sy help graag waar sy kan. “Alles gaan nie net oor geld en wat jy kan gee nie, ons moet onsself op die spel plaas, omgee bemoedig en ten alle tye ‘n voorbeeld stel.”

Elsabé van Bosch vertel sy het as kinderhuiskind die wêreld verward ingestap en het vir Anne-Marié ontmoet. Sy het vir 21 jaar lank onder Anne-Marié se vlerk gewerk en het so baie van haar geleer. “Sy is so ‘n positiewe mens, sy het hierdie invloed op jou om te wil.” Elsabé vertel dat die tyd wat sy vir Anne-Marié gewerk het, het sy soveel liefdadigeheidsprojekte aangepak. Sy het gebak en gebrou om geld vir minderbevoorregtes in te samel. “As haar panne kon praat, sou hulle boekdele gespreek het oor haar.”

“Sy het my geleer om kos te maak en om vir my medemens om te gee.” Elsabé sê Anna-Marié is ‘n gee-mens. “As sy iets kan gee, dan deel sy dit uit, maak nie saak watse kleur jy is nie. Almal moet kry, van die buurmense reg rondom haar, tot al haar werkers.”

Anne-Marié se buurvrou Beanca Botes sê sy ken al vir Anne-Marié van kinderdae af. “Sy het altyd oor die muur gehang en gevra hoe dit met ons gaan. Sy het ook altyd lekkernye oor die muur aangegee.”

Beanca vertel haar buurvrou is baie mededeelsaam. “Sy is ‘n vrou met vele talente, ‘n bobaaskok en sy maak die heerlikste geregte. Sy is lief vir tuinmaak en het al ‘n kompetisie daarvoor gewen.” Beanca beskryf Anne-Marié as ‘n staatmaker en ‘n hardwerkende vrou wat nie daaraan glo om lui te wees nie.

“Sy is beslis ‘n vrou van staal en het die vrygewigste hart wat ek nog ooit teëgekom het.”

Anne-Marié is al 40 jaar met haar man Charl Pizer getroud en hy sê: “Dit is in haar bloed om ander mense te help en meeste van die tyd doen sy dit sonder dat ander mense daarvan weet. Baie kere is dit op die ingewing van die oomblik.”

“Ek het dit verskeie kere in die verlede gesê en ek sal dit seker nog baie in die toekoms sê: wanneer sy die dag doodgaan, sal sy beslis hemel toe gaan.”

Anne-Marié sê ‘n mens moet altyd eerlik en opreg wees in jou lewe. “Ons verdien niks wat ons ontvang nie, alles is net genade. As die Here ons dan mildelik voorsien en ons gebruik om dan onvoorwaardelik te kan gee, is dit ‘n voorreg om in Sy diens te staan.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *