Oud-skoolhoof van Oranje sterf

Deel hierdie storie / Share this story

Mariehetta Matthee, wat vir ‘n kwarteeu aan die hoof van die Hoër Meisieskool Oranje gestaan het, het haar stryd teen kanker verloor.

Matthee is Maandagaand kort voor middernag oorlede.

Die skool het die nuus op sy Facebook-blad bekendgemaak.

“Die Oranje-vlag, ‘n naam waarvoor juf. Matthee só lief was, hang vandag halfstok.

Nodeloos om te sê, die harte van die leerders, die personeel, die oud-leerders en die gemeenskap is stukkend.”

Matthee was vir 31 jaar van haar lewe by Oranje betrokke waarvan die laaste 25 jaar as skoolhoof.

Kort voor haar aftrede in 2017 het Matthee in ‘n onderhoud aan Netwerk24 gesê:

“Wees lief vir die kinders. Dis waaroor dit gaan, ons doen dit ter wille van hulle. Raak betrokke by hulle, dan kry jy die beste uit hulle uit.

“As ek soggens opstaan, dink ek aan die kinders in wie se lewens ek ’n verskil wil maak. As jy dit nie regkry nie, het jy geen doel gedien nie.”