PRETORIA. – Nicholas Ninow, wat bekend staan as die Dros-verkragter, mag nou teen sy skuldigbevinding en vonnis appelleer. Hy is egter Saterdag in sy tronksel met ’n selfoon betrap.
LEES OOK: Tiener steek glo kollega op plaas dood
Mag nou appelleer
Ninow is in September 2019 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ’n sewejarige meisie in die kleedkamer van ’n Dros-restaurant in Pretoria. Hy is ook vyf jaar opgelê vir die besit en gebruik van dwelms sowel as vyf jaar vir regsverydeling.
Die kind se ma en personeellede het Ninow destyds saam met die slagoffer in die kleedkamer betrap.
Charmaine van der Merwe, hoofgriffier van die appèlhof, het aan Netwerk 24 bevestig Ninow is verlof toegestaan om sy appèlaansoek voor ’n volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria te bring.
Met selfoon betrap
Ninow is egter Saterdagmiddag in sy tronksel in die Baviaanspoort-gevangenis buite Pretoria met ‘n selfoon in sy besit betrap. Hy het glo die selfoon gebruik om toegang tot sosiale media te kry.
Bewaarders het op die selfoon afgekom en ’n ondersoek oor hoe die selfoon in die tronk ingesmokkel is, is reeds begin. Die ondersoek sal ook vasstel hoe lank Ninow die selfoon gehad het.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê Ninow sal gestraf word omdat hy die selfoon by hom gehad het. Dit is egter nie duidelik wat die straf sal behels nie. Hy is aangekla weens die oortreding van artikel 23 (1) van die Wet op Korrektiewe Dienste, Wet 111 van 1998.
LEES OOK: Dawie, Kimberley se slangvanger



