Dawie, Kimberley se slangvanger

Deel hierdie storie / Share this story

Die 40-jarige Dawie Griesel is eintlik ‘n nutsman, maar is ook bekend daarvoor dat hy slange in mense se huise en tuine kom verwyder. Dawie vertel hoekom dit belangrik is om liewer ‘n slang te laat verwyder as om hom dood te maak.

“As ons al die slange uitwis, gaan ons met ander plae soos muise en rotte sit.” Daarom sê Dawie is dit belangrik dat jy ‘n veilige afstand van die slang af hou, maar steeds ‘n oog op hom, terwyl jy vir Dawie of enige ander persoon wat gerigistreer is om slange te vang, bel. “‘n Slang beweeg rond en raak gou weg, dit maak dit dan gevaarlik en moeilik vir ons om hom te vang.”

Mal oor slange

Dawie sê hy is mal oor slange en vind dit hartseer wanneer mense ‘n bruin huisslang vermoor. “Bruin huisslange kom die meeste voor en is regtig skadeloos.”

Mense moet meer inligting oor slange kry en hulself opvoed. “As mense meer weet oor slange, en slange kan uitken, glo ek minder mense sal slange doodmaak.”

Alle slange wat deur Dawie verwyder word, word weer in die natuur vrygelaat, soos deur Natuurbewaring voorgeskryf. Verder vang Dawie die slange verniet, maar sê donasies vir hul tyd en petrol is welkom.

Dawie se liefde vir slange kom al vanaf ‘n jong ouderdom. “Solank as wat ek kan onthou, hou ek al van slange.” Dawie vertel nog voor hy die kursus gedoen het om slange te vang, het hy reeds pofadders met sy hande gevang. “Na die kursus het ek besef wat eintlik skeef kon loop en hoe gevaarlik dit eintlik is.”

Verwyder spoegkobra

Dawie het ‘n paar jaar gelede nuusopslae gemaak toe hy ‘n spoegkobra uit ‘n huis in Kimberley verwyder het. Hy het die voorval is ‘n een-uit-‘n-miljoen belewenis beskryf.

Dawie sê hy verstaan as ‘n mens ‘n slang in ‘n gevaarlike situasie doodmaak, maar andersins moet mense hom bel en hy sal die slang gratis uit jou pad uit verwyder.