Danielle Ferreira (26) is in Kimberley bekend vir haar smelt-in-die-mond-fudge. Sy is in Bloemfontein gebore, maar het kort na haar geboorte saam met haar familie na Kimberley verhuis.
As trotse oud-leerder van Hoërskool Noord-Kaap is sy ’n vrou van vele talente. Sy verkoop nie net die lekkerste fudge in die stad nie, maar sy werk ook vir NC Glass & Aluminium en haar pa doen werk vir Coca-Cola Beverages.
Sy is ook bevoorreg om die mamma te wees van twee pragtige seuntjies, Dantrus (4) en Sion (3).
Fudge net eers ’n vakansielekkerny
“The Fudgemaster het begin as ‘n lekkerny vir familievakansies. As kind het ons altyd in die Wes-Kaap gaan vakansie hou. Ons eerste en laaste stop was altyd om hierdie fudge te koop en om dit ook as geskenkies vir vriende terug te bring. Dit was soos ‘n familietradisie om fudge te kry die eerste ding as ons daar kom en laaste ding voordat ons terug huis toe gaan. Familievakansies kon later ongelukkig nie meer gebeur nie.”
Danielle vertel sy was vroeër vanjaar bitter ongelukkig by haar werk en het bedank sonder om enige alternatiewe inkomste te hê.
Bring die lekkerste fudge na Kimberley toe
“My pa het in April gaan vakansie hou en oudergewoonte het hy weer van die fudge saamgebring. Ek en my pa het net daar en dan besluit ons bring die lekkerste fudge in Suid-Afrika Kimberley toe!
“Dit is vir my so lekker om hierdie lekkerte met mede-Kimberliete te deel. Ek is ook dankbaar dat God my as enkelmamma van twee seuntjies die geleentheid gegee het om my eie besigheid op die been te kon kry.”
The Fudgemaster se fudge is in 30 verskillende geure beskikbaar. Danielle sê sy en haar pa beoog om in die toekoms ’n volgepakte winkel oop te maak en sodoende Kimberliete se harte bly te maak.





