Die groot kompetisie

Deel hierdie storie / Share this story

Marieta McGrath se debuutkinderboek, Die groot kompetisie, is pas gepubliseer deur Naledi. Marieta dra die kleurvolle prenteboek van 36 bladsye op aan haar man, Michael, en kinders Sarah-Jane en Matthew.

Louis Luidier wen elke jaar Woudstad se luiweesmedalje. Hierdie jaar besluit sy buurvrou, Liena Luidier, egter om ook in te skryf vir die kompetisie. Die twee luidiere sê mekaar die stryd aan en die een probeer luier wees as die ander. Maar o wee, nie almal se idee van luiwees is dieselfde nie. Die luidiere is só besig om luiweeskatoeters te bou om hulle in staat te stel om nóg luier te wees dat hulle skoon vergeet wat luidiere eintlik die beste doen. Die groot kompetisie is ’n prettige verhaal wat jong lesers se aandag sal boei en hulle heerlik sal laat skaterlag.

Uittreksel: “Louis bou heelnag aan sy eie luiweeskatoeter. Hy kap en hy hamer en hy timmer en hy boor. Hy sny en hy saag en hy skuur” (7).

Meer oor die skrywer: Marieta McGrath, voorheen ’n laboratoriumwetenskaplike, fokus deesdae op vryskutskryfwerk en akademiese taalversorging. Sy is die wenner van etlike digkompetisies en van haar gedigte is in versamelbundels opgeneem.

Meer oor die illustreerder: Daniela Hammond het ’n diploma in multimedia ontwerp en produksie van CityVarsity. Gaan loer hier na haar pragtige werk.

Die groot kompetisie is geskik vir kinders vanaf vier jaar en ouer. Vra jou naaste boekwinkel om dit te bestel indien hulle dit nog nie in voorraad het nie. Skaf dit ook hier aan by Naledi se aanlyn boekwinkel. Vir getekende kopieë kan die skrywer direk gekontak word by 073 289 0926.