OOS-KAAP. – ‘n Vermeende dronkbestuurder het ‘n man na bewering raakgery waarna hy weggejaag het en die slagoffer onder sy motor saamgesleep het.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die bestuurder (45) is op Sondag 1 Augustus 2021 omstreeks 20:40 in hegtenis geneem op aanklag van strafbare manslag en dronkbestuur. Daar word beweer dat die verdagte ‘n klub in Durbanstraat, Kariega, verlaat het.
Vermeende dronkbestuurder vas na hy glo man raakry
“Nadat hy ‘n ent gery het, is hy deur ‘n getuie gestop wat hom meegedeel het daar word iemand onder sy voertuig saamgesleep. Nooddienste en die polisie is na die toneel ontbied.”
Daar is vasgestel dat die onbekende manlike slagoffer, in sy veertigs, omgekom het. Die vermeende bestuurder van die voertuig is op die toneel in hegtenis geneem op die twee aanklagte.
Die Suid -Afrikaanse Polisiediens waarsku bestuurders om nie te ry nadat hulle alkohol gedrink het nie, maar ‘n verantwoordelike persoon te kontak om hulle te gaan haal of alternatiewe vervoer huis toe te gebruik. Enigiemand wat moontlik kan help met inligting oor die saak of iemand wat na ‘n vermiste familielid soek, word versoek om die speurbeampte, Deon Roos, te skakel by 079 896 8148 of Crime Stop by 08600 10111.
LEES OOK: Meer bekend na seun (3) by Waterfront-sentrum na sy dood val
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



