Nog ‘n Namakwalandse seder het weens Covid-19 geval.
Hy is die bekende onderwysman en politikus, Jacobus Frederick “Boeboe” van Wyk van Steinkopf.
Van Wyk het Saterdagnamiddag volgens sy familie aan Covid-19 beswyk. Die tyding het beroering en skok oor die Noord-Kaap, maar veral Namakwaland, veroorsaak
Billy Claasen, (‘n aktivis vir regte van plaaswerkers,ens) het Van Wyk beskou as n politieke leier wat diep spore in die SA-politiek getrap het. Hy het gesê:
“Dit is spore wat nie maklik gevul sal word nie. Hy was n merkwaardige man, wat op verskeie vlakke gedien het. Hy was ‘n mensemens wat baie kalm was. Iemand wat transformasie in baie mense se lewens laat plaasvind het.”
Volgens Claassen was Van Wyk een van diegene wat help bou het aan die nuwe SA. Hy hoop die ANC sal in die moeilike tye waarin ons nou leef, ook n blaadjie uit die boek van Van Wyk vat.
“Jy was passievol oor die ANC, jou mense in veral Namakwaland, Richtersveld, Boesmanland en die breë Noord-Kaap. Jy het voltyds gestrewe na n beter lewe vir, veral die verontregtes en armstes.”
Van WyK het vir baie jare skoolgehou op sy tuisdorp, Steinkopf. Hy was baie lief vir veral aardykskunde, maar ook vir geskiedenis en wiskunde, wat hy aangebied het.
In 1997 was hy as ANC-lid van die parlement ingesweer in Kaapstad. Later het hy die hoofsweep van die ANC in die Noord-Kaap geword. Ander posisies wat hy beklee het, was LUR vir behuising en plaaslike regering en LUR vir veiligheid en skakeling.
Van Wyk was voor sy uittrede uit die openbare lewe ook burgemeester van die Nama Khoi-munisipailiteit op Springbok.
Een van Van Wyk se groot bydraes was die paar boeke wat hy die lig laat sien het. Dit handel veral oor die Steinkopf-omgewing en -gemeenskap.
Een onderwyser, Imanual Cloete, het hom beskryf as n legendariese onderwysman, politikus en skrywer. Hy het vertel:
“Hy was baie deeglik en kundig om die kultuurhistoriese geskiedenis van sy dorp, Steinkopf, vas te pen. Sy nalatenskap sal nog vir lank deel van ons gemeenskappe wees en bly voortleef.”
Sy neef, Andre Vries, het hartseer vertel dat hy ongekende seer ervaar, omdat Van Wyk vir hom soos n mentor was. Hy het gesê:
“Hy was n uitmuntende gesinsman, n eerlike politikus, maar n plat op die aarde mens. Iemand wat ons nie maklik sal kan vergeet nie. Veral sy bydraes ten opsigte van ons familie-geskiedenis.”
Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, het namens die wetgewer en provinsie sy medelye teenoor van Wyk se gesin, familie en vriende uitgespreek.
“Hy was n merkwaardige man, wat sy lewe gewy het aan die bou van ‘n welvarende samelewing. Ook het sy liefde by die mees kwesbaarstes gelê. Die Noord-Kaap het groot baat gevind by sy leierskap en dienstigheid.”
En terwyl huldeblyke steeds instroom, probeer sy vrou, Romina, en hulle kinders sy skielike dood verwerk.
Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings bekend nie.



