Gesoekte verdagte vas vir meer as 10 diefstalsake

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Verdagte wat vir ‘n ruk deur die polisie gesoek was, is Vrydag op Jan Kempdorp in hegtenis geneem na die Jan Kempdorp- en Warrenton-polisie inligting opgevolg het.

Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê Tony Thobela (52) word aan 10 sake wat op Jan Kempdorp, Warrenton, Delportshoop en Barkly-Wes geopen is, verbind. Van hierdie sake sluit in huisroof en diefstal, diefstal van koperkabels en diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Verskeie elektriese toebehore insluitend yskaste, vrieskaste, skootrekenaars, musiekinstrumente, gassilinders, mikrogolfoonde, klankstelsels, kampgereedskap en ander gereedskap is in ‘n huis in Masakeng in Valspan op Jan Kempdorp gevind.

Die gesamentlike waarde van al die goedere is ongeveer R140 000.

Die verdagte het Maandag in die Jan Kempdorp-landdroshof verskyn en sy saak is tot 11 Augustus uitgestel vir formele borgaansoek.

Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning.