KAAPSTAD. – ‘n Brandweerman wat sy vingers in die Duiwelspiek-brande verloor het, is na vier maande uit die hospitaal ontslaan waar hy vir ernstige brandwonde behandel is.
Volgens IOL is die brandweerman Dinsdag uit die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal ontslaan.
Die brandweerman, wat nie sy naam wil bekend maak nie, is op 18 April, die dag wat die brand in Philip Kgosana-rylaan uitgebreek het, in die hospitaal opgeneem. Hy het ernstige brandwonde aan sy gesig, arms, nek en hande opgedoen.

Die brandweerman het die punte van sy vingers verloor
Die punte van die brandweerman se vingers is geamputeer. Hy sê hy is al reeds 14 jaar in die bedryf en beskou sy werk as ‘n persoonlike roeping.
Verder vertel hy dit was vir hom moeilik in die hospitaal omdat die hospitaal, weens die Covid-19-pandemie, net een besoeker toegelaat het. “Ek het lank hiervoor gewag. Ek is veral bly om my gesin te sien,” sê hy.
“Ek het baie die dokter gevra om my kinders te sien. Ek het hom gevra om ‘n brief te skryf wat sê my kinders kan saam met my vrou kom, want ons mag net een besoeker hê.”
Hy vertel sy kinders is nie bewus dat hy ontslaan word nie, hy wil hulle verras.

“Ek is trots op myself. Al is my loopbaan verby, is ek steeds ‘n brandweerman.”
Dokter Denis Allard, ‘n traumachirurg, sê die brandweerman het brandwonde op 17% van sy liggaam opgedoen. Hy moes omtrent 25 operasies ondergaan.
Dokter Nick Kairinos, ‘n plastiese en rekonstruktiewe chirurg, sê die brandwonde wat hy op sy hande opgedoen het, was baie ernstig. Daar het been uitgesteek en dit het gelyk asof dit gebrand was.
Die brandweerman is deur chirurge, verpleegsters en ander personeel vergesel, wat vir hom gesing het toe hy uit die hospitaal uit stap.

Lees ook: Pablo Escobar se kokaïen-seekoeie dreig om Colombia oor te neem



